News

Bekende sakeman sterf weens Covid

’n Bekende sakeman van Middelburg, mnr. Johan Odendaal (55), is vanoggend omstreeks 06:40 aan die Covid-19 virus oorlede.

“Johan het nie onderliggende siektes gehad nie. Hy was ’n sterk, perdfris man, wat die virus gekry het. Dis ’n wrede siekte. Hy maak nie onderskeid nie,” het mnr. Odendaal se vrou, Retha, gesê.

Beide sy en haar man het op 7 Januarie positief vir die virus getoets.

Binne ’n paar dae het sy suurstofvlakke begin daal en is hy per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem.

Hy was sedert verlede Vrydag aan ’n ventilator in die intensiewe eenheid gekoppel en het hulle hom soms vir twee ure van die masjien probeer speen. Hy kon egter nie heeltemal afgehaal word nie.

Me. Odendaal onthou hartseer hoe haar man haar gister sewe keer probeer bel het, maar weens ’n probleem met sein, kon hulle nie met mekaar praat nie. “Hy wou so graag nog een keer net my gesig sien.”

Sy het gesê dat ons dorp ’n dinamiese, standvastige sakeman verloor het.

“Johan was die mees onbaatsugtige, hulpvaardigste mens. Hy sou homself te na gekom het om ander te help. Hy was die beste pappa en man, ’n yster. Johan was ons teddiebeer. Hy het die kleinste hartjie gehad. Hy was ’n familieman, wat gelewe het vir my en die kinders.”

Me. Odendaal was vol lof vir die dokters, susters en verpleegsters “wat met die pandemie oorwerk is, maar steeds meer as 10 000 myl vir die pasiënte loop. As ek iemand kan uitsonder wil ek graag vir sr. Monica Jenkins baie dankie sê.”

Sy sê weens al die masjiene in intensief en in die hospitaal, is daar ’n probleem met sein op selfone.

“Wat vir my die swaarste was, was dat die kommunikasie ontoereikend was, veral in intensief, omdat sein beïnvloed word met die masjiene. Ek kan dalk voorstel dat die hospitaal daaraan werk en ook, soos by ander hospitale, dalk begin met ’n inbellyn. Hierdie lyne word beman deur byvoorbeeld maatskaplike werkers, wat die familie ingelig kan hou oor die pasiënte se presiese toestand. Die lyn werk volgens die pasiënt se identiteitsnommer.”

Sy glo dit sal die druk op die dokters en personeel ook minder maak, sodat hulle hul volle aandag aan die pasiënte kan gee.

Mnr. Odendaal word oorleef deur sy vrou, Retha, kinders Yanke en Almerné, skoonseuns Henk en Jac, kleinseun Zian, sy ma, Rita Ligthelm, suster Martie Kolesky en broer Francois Odendaal.

Daar sal later begrafnisreëlings getref word.

 

*Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter
Beste leser,
As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig.
Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry.
Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak.
Het jy ’n nuuswenk?
Skakel ons redaksiekantoor op 013 243 1434 of ons bystand nommer, vir noodgevalle na werksure, by 072 248 3855 om jou storie met ons te deel.
Volg ons op die Middelburg Observer Facebook groep of blad of stuur ’n whatsapp na 072 248 3855 met die woorde “add me” vir nuusflitse en ander relevante nuus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button