Rugbylegende sterf na stryd teen kanker
Die oud Hoërskool Middelburg leerling wat later ’n groot impak in die Suid-Afrikaanse rugby arena gemaak het, is na ’n stryd teen kanker drie dae voor Kersfees oorlede.
Leon Stork is op 87 dood in sy huis in Esher, Engeland, en sy vrou, Josephine, is etlike dae daarna, op Kersdag oorlede aan demensie.
Stork was in 1987 organiseerder van die English Bulldogs rugbyspan, waar hy ’n span juniorspelers, tussen die ouderdom van 18 – 23, uit Engeland en Wallis gekies het.
Hy was betrokke by die reëling van ’n Suid-Afrikaanse toer wat geleentheid geskep het vir junior spelers om hulle talente te ontwikkel.
Internasionale ster Andy Robinson, was een van baie talentvolle rugbyspelers, wat onder Stork se leiding gegroei het in sy rugbyloopbaan, en Stork se seun, Ben, was self ’n lid van die English Bulldogs span.
Leon Stork se seun, Ben, het in ’n huldeblyk vertel dat sy pa op Ermelo gebore is. Leon se pa was die stasiemeester op Ermelo, en hulle het as gesin getrek na Lydenburg, Nelspruit, en toe uiteindelik Middelburg.
Ben het vertel dat sy pa baie lief was vir Middelburg en sy skooldae op Hoërskool Middelburg, waar hy betrokke was in sport. Hy het veral ’n liefde gehad vir rugby en boks, maar ’n gebreekte enkel het sy rugbyloopbaan stopgesit.
Na skool het Leon Stork musiek gaan studeer op Stellenbosch, waar hy sy tenoorstem as operasanger ontwikkel het. Hy het geïmmigreer na Engeland toe, waar hy talle klein rolle gehad het op die West End planke.
Stork het as gevolg van sy gesin, sy droom opsy geplaas, en toe werk gekry as verslaggewer by ’n Engelse koerant. Hy het vinnig ontwikkel as ’n sportjoernalis.
•Die Stork gesin het ’n gesamentlike roudiens vir beide Leon en Josephine Stork vanuit die Christ Church Esher gehou. Die egpaar is op 19 Januarie begrawe.
