News

Fotoman skielik vanoggend oorlede

Die welbekende oom Piet de Lange (77) is vanoggend (Maandag) in die vroeë oggendure in die Life Midmed Hospitaal oorlede.

Sy vrou, Lieze, sê hy het weens longontsteking gesterf.

Mnr. De Lange was sowat ’n maand gelede ook in dié hospitaal waartydens vog van sy buik getrek is.

“Hy het Vrydagnag gesê hy kry koud en Saterdag die hele dag gelê. Sondag het ek ’n ambulans ontbied en vanoggend kort na 04:00 het hulle my gebel en gesê hy is oorlede. Dit was so vinnig,” het sy hartseer gesê.

Die meeste inwoners ken die De Lange egpaar wat ’n paar jaar gelede ID-foto’s geneem het in hul karavaan voor Binnelandse Sake. Die afgelope ses jaar was hulle aan die stuur van sake by Elite Foto’s in SADCstraat.

Me. De Lange vertel dat haar man eers gewerk het as provinsiale verkeersman. Daarna was hy vir jare ’n ondersoeker van voertuie by die munisipaliteit en later hoof by die lisensie-afdeling.

Met sy aftrede het hy aangesluit by sy vrou om hand by te sit met die besigheid.

“Piet was my alles, my staatmaker. Hy het so mooi na my gekyk toe ek verlede jaar so siek was,” sê me. De Lange.

Sy kinders en kleinkinders onthou hom as die platjie wat gereeld pittige opmerkings gemaak het en altyd reg was met ’n grappie of die regte raad.

Selfs by die Middelburg Observer was hy welbekend, waar hy soms ingeloer het om te groet en seker te maak dat reg en geregtigheid geskied.

Mnr. De Lange word oorleef deur sy vrou, Lieze, kinders, Gerda Jansen van Nieuwenhuizen en Jannie de Lange, skoonkinders Carien, Leander en Adri, agt kleinkinders en drie agterkleinkinders.

• Persone wat met die gesin kontak wil maak, kan Gerda bel of WhatsApp by 071 467 6805.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button