Kafee legende sterf skielik voor 80ste verjaardag
Die legendariese mnr. Alec Politis (79) wat op 31 Januarie vanjaar sy 80ste verjaardag sou vier, is Saterdag skielik oorlede.
Mnr. Politis, dekadelange eienaar van Rembrandt Kafee agter HTS Middelburg, is Saterdag dokter toe, vergesel deur een van sy werknemers, nadat hy gekla het dat hy baie sleg voel.
By die spreekkamers het mnr. Politis skielik inmekaar gesak, waarna dokters hom dadelik op suurstof gesit het.
Mnr. Politis was ook ’n Tipe 2 diabeet wat die afgelope paar weke erg gesukkel het om sy bloedsuikervlakke onder beheer te bring.
Die familie sê dat sy suikervlakke begin klim het nadat iemand onlangs teen mnr. Politis by die kafee gebots het.
Skok veroorsaak suikerfluktuasies en die familie vermoed dit is wat gebeur het na die botsing.
Sy bedroefde vrou, Cilie, sê dat ten spyte van die behandeling, mnr. Politis se suikervlakke nie wou val nie en sy suurstofvlakke nie wou optel nie.
Mnr. Politis is toe hospitaal toe gejaag, waar hy beswyk het.
Mnr. en mev. Politis het ook jarelank Robin Hood Kafee bedryf.
Generasies HTS skoolkinders sal mnr. Politis onthou as ’n veilige hawe voor en na skool.
Hy het altyd geselsies aangeknoop met klante.
By Robin Hood Kafee was jarelank ’n instelling vir Middelburgers om Sondagmiddae, daar verby te ry vir roomys.
Rembrandt Kafee is tans gesluit, tot verdere kennisgewing, nadat een van die kafee se werkers positief vir Covid-19 getoets het.
’n Toets is ook op mnr. Politis gedoen, maar hy is oorlede voordat die toetsuitslae bevestig kon word.
Mev. Politis het bevestig dat hulle steeds op die die uitslag wag.
Daar sal eersdaags net ’n verassingsdiens vir die naaste familie en vriende gehou word, weens Covid-19 beperkings.
Mnr. Politis laat sy vrou Cilie, seun Alexander ’n advokaat in Pretoria, dogter Helen ’n apteker in Amerika, en dogter Melinda, ’n tandarts in Engeland, agter.
