Ontploffing was by Columbus
Dit het intussen aan die lig gekom dat die ontploffing wat die dorp geruk het, op Columbus se terrein plaasgevind het.

Die besturende direkteur van Columbus Stainless Steel, mnr. Johan Strydom, het gisteraand 21:00 gesê dat hulle vandag ’n persvrystelling sal uitreik oor die ontploffing.
Hy het verduidelik dat die ontploffing plaasgevind het toe warm slak (slug), in water beland het.
“Die water word dadelik stoom en sit 1 600 keer uit. Dit veroorsaak die ontploffing.”
Mnr. Strydom het ook gemeld dat Magnum Metals in beheer is van die slakstortingstasie.
Na wat verneem word het die ontploffing skade aan voertuie aangerig en vensters gebreek.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Besoekers aan die Middelburg Mall het later gesê dat die “hele Mall geskud het tydens die ontploffing.” Ander besighede het ook gesê dat hulle geboue geruk en die krag vir ’n oomblik afgegaan en toe weer aangegaan het.
Die skudding is tot in Kanonkop en Dennesig gevoel.
Inwoners het ook laat weet dat hulle gas geruik het na die ontploffing.
• Mnr. Strydom het gesê dat die voorlopige ondersoek afgehandel is.
