Die damvlak staan tans op 81.60%! Mnr. Gawie Steyn sê hy het vanaf Donderdag tot Sondag 79mm op Hendrina gemeet. Die bruggie in Piet Groblersstraat (Dennesig) was laatmiddag Donderdag oorstroom en Sal Botha het uit Dennesig laat weet dat dit daardie rukkie alleen 52mm gereën het! Sal het vanaf Donderdag tot Sondag 99mm gemeet. Teen laatmiddag vandag (Maandag) het hy reeds weer 13mm in sy reënmeter gehad. By die Middelburgdam is 116mm oor die naweek gemeet. • By Amora Voëlpark (Cowen Ntulistraat) het dit binne minute gelyk soos ’n rivier deur die park met die stortreën. Me. Marietjie Britz sê sy weet nie hoeveel dit gereën het nie, maar sy was op ’n stadium kniediep in die water om kinders oor die bruggie by die ingang oor te tel. Met die geweldige reënstorm, het die stormwaterdrein hoër op in die straat oorgeloop en afgeloop tot by die park en die spruit het ook gou oor sy walle gestroom. “Dit reën elke dag en ons moet elke oggend mense inkry om te kom help om al die water met emmers te kom opskep,” sê me. Britz. Hulle het etlike maande gelede al gate in spesifiek die marmotte se sementhokke geboor, sodat dié diertjies nie kan verdrink as dit so erg reën nie. Donderdag het dit egter só erg gestortreën dat die marmotte bo op die palette in hul hokke moes klouter, maar hul pootjies het steeds nat geword. Me. Britz sê dat hulle die marmotte uitgehaal het en nou in ander hokke hou tot die ergste reën verby is. Sy het die gemeenskap verseker dat nie een van hul diere seer gekry het tydens die storms nie en dat hul deure nog elke dag oop is. “Ons Houtlepel Vlooimark Sondae het ook reeds die naweek begin en sal voortaan elke Sondag weer oop wees.” https://youtu.be/1B-HUHzPxTc *Kennisgewing: Koronavirus verslaggewing deur Caxton Local Media poog om fopnuus te kniehalter Beste leser, As jou plaaslike nuusverskaffer is dit ons plig om jou ingelig te hou van alle feite rakende COVID-19. Baie fopnuus doen die rondte aanlyn. Caxton Local Media werk gedetermineerd deur massas beskikbare inligting met die doel om waarheid van leuens te onderskei. Sodoende hou ons jou ingelig. Ons plaaslike nuuskantore volg ‘n streng protokol wanneer dit kom by nuuswerwing en publikasie. ‘n Nasionale taakspan is daargestel om seker te maak dat jy geloofwaardige nuus oor die koronavirus kry. Lesers met navrae of kommentaar kan ons nasionale groepredakteur, Irma Green (irma@caxton.co.za) of regsadviseur Helene Eloff (helene@caxton.co.za) kontak. Het jy ’n nuuswenk? Skakel ons redaksiekantoor op 013 243 1434 of ons bystand nommer, vir noodgevalle na werksure, by 072 248 3855 om jou storie met ons te deel. Volg ons op die Middelburg Observer Facebook groep of blad of stuur ’n whatsapp na 072 248 3855 met die woorde “add me” vir nuusflitse en ander relevante nuus.
