Avonturier sterf weens Covid-19
Johan La Grange (62), ’n lewenslustige avonturier wat graag dinge saam met sy vrou en kinders gedoen het, het Dinsdag in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal weens nagevolge van die Covid-19 virus gesterf.
Johan La Grange (62), ’n lewenslustige avonturier wat graag dinge saam met sy vrou en kinders gedoen het, het Dinsdag in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal weens nagevolge van die Covid-19 virus gesterf.

Sy seun, Waldo, sê dat hy op 16 Januarie in die hospitaal opgeneem is en ’n dag later na die intensiewe eenheid geskuif is.
“My pa het op 18 Januarie in die intensiewe eenheid verjaar.”

Die laaste paar dae het mnr. La Grange se toestand agteruit gegaan met eers ’n bloedklont in die been, daarna ’n hartaanval en uiteindelik het al sy organe ingegee. Hy was tot met sy afsterwe aan ’n ventilator gekoppel.
Waldo het sy pa as ’n “fantastiese man” vir sy vrou en pa vir sy kinders beskryf. “Hy was ’n lewenslustige, goeie, opregte man, wat altyd positief was en net die beste raad gegee het.”

Mnr. La Grange se vrou, Marthie, sal altyd hul Kaapse vakansie Desember 2020 saam met vriende Dirk en Christine Miller in haar hart koester. “Dit was ons beste vakansie ooit!” Die egpaar sou in April hul tiende huweliksherdenking gevier het.

Mnr. La Grange was die tegniese bestuurder by KBR Mining. Hy word oorleef deur sy vrou Marthie, kinders Waldo la Grange, Sonja van der Westhuizen, Berni la Grange, Marnique en Danelle Geldenhuys, Jenike Pretorius en Lourens van Greuning, skoonkinders en twee kleinkinders.

• Die begrafnis is Woensdag om 10:00 uit die NG Kerk, Suid gemeente. Daar sal ’n direkte aanlyn uitsending wees by Rustique. Hulle sal egter, sodra die skakel (link) beskikbaar is, dit ook uitstuur sodat persone wat nie die diens of uitsending by Rustique weens getalle kan bywoon nie, op dié manier kan kyk. Www.mobserver.co.za sal ook die skakel vroeg volgende week deel sodra ons dit kry.





