Sussie droom om ’n lugwaardin te word
Nog elke jaar het die gemeenskap twee dogters, wat nie in ’n hoofstroomskool was weens omstandighede nie, gehelp, maar hierdie jaar lyk dit nie of daar uitkoms vir hulle gaan wees nie.
Nog elke jaar het die gemeenskap twee dogters, wat nie in ’n hoofstroomskool was weens omstandighede nie, gehelp, maar hierdie jaar lyk dit nie of daar uitkoms vir hulle gaan wees nie.
Die dogters is ’n paar jaar gelede in hul tannie se sorg geplaas en is hulle eers as tieners skool toe. Hulle is beide in ’n privaatskool weens hul ouderdom en daar is ’n kans dat elkeen iets van hul lewens kan maak, maar daar is onkonstes vir die skool, asook vir verdere studie wat die tannie nie alleen kan verhaal nie.
Die twee dogters wil egter steeds dankie sê vir elke persoon wat hulle gehelp het om te kom waar hulle vandag is.
Hier is hul briefies (hul name word weens verstaanbare redes weerhou):
Die oudste dogter se briefie:
“Soos almal weet, is ek vier en ’n half jaar gelede in my tannie se sorg geplaas, weens omstandighede van my ma en stiefpa.
Ek is 20 jaar oud en tans in graad 10 by ’n privaat skool, waar ek ook die jaar klaar maak met skool na vier jaar, danksy wonderlike mense wat my bygestaan het deur alles wat ek aangepak het.
Mense soos my tannie, onderwyser (me. Sonja Vorster), my skoolhoof (me. Susan du Plessis), vriende wat ek ontmoet het en ook mense wat my elke jaar geborg het.
Elkeen van julle het my lewe verander en speel ’n baie belangrike rol van wie ek geword het. Sonder julle sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie.
Ek wil net dankie sê aan elkeen van julle, woorde kan eerlikwaar nie beskryf hoe baie ek alles waardeer nie. Danksy julle het ek my droom bereik om tot graad 10 te vorder, met die doel om te werk en verder te leer.
Soos ek in my briefie laasjaar gesê het, wil ek graag onderwys studeer, omdat ek kinders wil help dat hulle nie deurgaan wat ek en my jonger sussie moes deurgaan, deur nie in ‘n skool te wees nie.
Ek is baie trots op myself, omdat ek nie gedink het ek sal so ver kom nie.
Ek werk tans met pragtige kinders in my vrye tyd en gaan skool. Dis nie altyd maklik nie, maar ek moet alles insit om my doelwitte te bereik en ek gaan, want wonderlike mense motiveer my daagliks.
Die maatskaplike werker (tannie Annabel Luus), dankie dat tannie gehelp het.
Dan wil ek ook afsluit met baie groot nuus. Vir my hoof, me. Du Plessis, wat al die jare my belange op die hart gedra het, wil ek baie dankie sê vir die geleentheid om volgende jaar by Clever Kids se kleuterskool te werk.
Juffrou het regtig geen idee hoe baie dit vir my beteken nie. Ek sal juffrou ewig dankbaar wees vir hierdie geleentheid.
Die enigste struikelblok vir my, is dat my eerste jaar (vlak vier) se deposito R2 500 beloop.
Ek het nie nou die fondse daarvoor nie. Daarom wil ek vra of dit nie dalk moontlik is vir iemand om die deposito te borg nie. Die res kan ek maandeliks afbetaal soos ek werk.
Laastens wil ek ook vra vir die goeie mense daarbuite om my jonger sussie, wat 18 jaar oud en in graad sewe is, te borg. Sy wil graag eendag ‘n lugwaardin word, maar moet ten minste graad 10 slaag.
Sy begin eerskomende jaar met haar hoërskoolloopbaan en ek glo sy wil ook graag haar drome bereik soos ek het.
Weereens dankie aan almal wat ons lewens verander het. Dit beteken werklik baie vir ons.
Die jonger suster se brief:
Ek is maar net ’n jong meisie wat nog droom om iets te bereik.
Vir die afgelope drie jaar het almal wat my en my sussie se briefies gelees het, se harte regtig vir ons oop gegaan. Ek hoop en vertrou dat daar hierdie jaar ook iemand sal wees wat ons sal borg.
Ek wil net vir almal wat vir my sussie bygedra het, sê dat my sussie se droom gaan waar word! Sy gaan van volgende jaar af by ‘n skooltjie werk! Maar julle sal meer daarvan in haar briefie lees.
My sussie is nou in graad 10, maar sy kan graad 11 en 12 doen deur die skool. Sy wil egter eers vlak vier en vyf agter haar naam kry. Ek is baie trots op my sussie.
Ons het dit nie maklik gehad nie, as gevolg van ons ma wat verkeerde besluit geneem het.
Toe ons in pleegsorg geplaas is vyf jaar gelede, was ek 13 jaar oud, met slegs ’n halwe jaar van graad een agter my naam. Ek kon nie lees of skryf nie, maar my tannie, die maatskaplike werker,
Marna, wat vir ons ‘n plek in ‘n skooltjie gekry het, het alles verander.
Ek is nou 18 jaar oud en in graad sewe en doen regtig goed op skool. Ek sal ook graag wil vorder tot graad 10 en dan vir my ‘n werk kry soos my sussie om verder vir my eie studies te betaal.
My droom is om ‘n lugwaardin te word. My tannie in wie se sorg ons is, is ‘n enkel-ouer en kan nie alles met haar salaris betaal nie.
Ek vra almal daar buite weer baie mooi om my en my sussie vir volgende jaar te borg.
My assesseringspakket se kostes is R6 800. Asseblief, help my, sodat my drome ook waar kan word.
• Enige persoon of besigheid wat die meisie finansieel wil ondersteun, kan die skool bel by 072 044 4204 of die maatskaplike werker by 013 282 4413.