Die egskeidings, die aanrandings en die mieliemeel
Wat het egskeidings, aanrandings en ’n pakkie mieliemeel wat ’n prokureur so byna in die Hong Kong-tjoekie laat beland het, in gemeen?
Natuurlik vir Helgard du Preez wat uit die skatkamers van sy geheue stories vertel waarmee ’n mens boeke kan skryf!
Hy het pas sy 40ste jaar as prokureur hier op Middelburg gevier en vertel die Middelburg Observer vir lesers meer daaroor in sy Vrydag uitgawe.
As hy egter die hekkie van die laning van herinneringe oopmaak, dan is jy verstom oor wat soms regtig agter toe deure in prokureurs se kantore aangaan.]
• Hy onthou met ’n glimlag die keer toe hy teen ’n persoon eise ingestel het. Kort daarna kom die einste persoon se vrou hom sien om haar egskeiding te hanteer.
Die rede hoekom sy net vir Helgard wil gebruik? “Sy wou haar man ’n punt bewys en ek was, volgens haar, die man in Middelburg wat haar man die meeste haat!”
• Iets wat elke prokureur goed moet kan doen, is om kalm te bly, veral in gevaarlike omstandighede. Soos die keer wat die man, wat Helgard pas uit sy besigheid gesit het, by sy kantoor ingebars het. Helgard het dadelik die wapen aan sy sy gesien.
• Hy sal ook nooit vergeet toe een van sy vriende hom sommer op die plaas kom sien het, “om dadelik sy vrou te dagvaar vir ’n egskeiding.”
Die Maandag daarna bel dieselfde man se vrou hom en wat moet hy doen: hy moet dadelik haar man dagvaar vir ’n egskeiding!
Vir weke het die twee al om die beurt gebel met die woorde: “hoe ver is jy met die dagvaardiging en elke keer het ek gesê: ‘ek is besig daarmee…”
Na nog ’n paar weke het albei hom gebel en gevra of hy dit nog kan stop, waarop hy vir albei gesê het: “ek sal kyk wat ek kan doen’ en eintlik het ek met niks begin nie. Ek het mos gewéét wat gaan gebeur!”
• Dan was daar die keer toe hy ’n man moes verdedig wat van aanranding aangekla is tydens ’n voorval by die destydse skou op die munisipale gronde.
Tydens die verhoor moes die klaer se minderjarige seuntjie vir die staat getuig.
In kruisverhoor het Helgard hom uitgelok om te erken dat sy pa baie dronk was. Hy stel toe vas dat die klaer nie self gaan getuig nie, omdat hy nie kon onthou wat gebeur het nie!
Die tweede getuie was die klaer se vrou en maak die staat ’n groot storie van die feit dat die kind geloofwaardig is.
“Die ma het bevestig haar kind sal nooit lieg nie. Sy het ook gesê sy en haar man het elkeen net een of twee biere gedrink. Ek vra haar toe, ‘mevrou, so as jou seuntjie sou sê dat jy en jou man so dronk was dat julle nie op jul voete kon staan nie, dat hy sou jok. Jy het dan nou net gesê hy jok nie?”
In die daaropvolgende gebeure het die ma opgespring en geskree: “ek is klaar met die saak!” en by die deur uitgestorm.
Die landdros het opdrag gegee dat die hofordonans haar arresteer as “weerbarstige getuie” en net daar besluit al die partye om die sake net daar te laat.
• Hy onthou verder toe hy opgetree het teen ’n plaaslike prokureur in ’n piramide-skema wat mense, waaronder ’n boer, oortuig het om daarin te belê.
Die advokaat vir die prokureur het omtrent die arme boer uitmekaar getrek in ondervraging en hom daarop gewys dat hy van beter moes geweet het.
Einde ten laaste verloor die advokaat dit en sê: “meneer, jy is ’n boer, wil jy vir die hof vertel jy weet nie wat gebeur as ’n boer skuld maak nie!”
Daarop het die boer (wat baie ryk was) doodonskuldig geantwoord: “nee, ek het nog nooit skuld gemaak nie!” (tot die advokaat se vernedering, wat in sy eie strik getrap het).
Kort daarna het hulle gekom met ’n aanbod vir ’n skikking.
• Prokureurs kan hulself uit byna enige situasie praat, maar die dag op Hong Kong lughawe het hy gedink hy gaan nooit weer Suid-Afrika sien nie.
Sy dogter bly daar en sy vrou, Mini, het ’n paar dae vantevore al soontoe gevlieg.
Elke keer as hy Hong Kong toe gaan, dan verpak hy gevriesde skaaptjops, so twee kilogram biltong en natuurlik eg Suid-Afrikaanse mieliemeel in sy tas.
“As jy daar aankom is die vleis nog gevries!” Sy geheim oor hoe hy dit doen, wou hy egter nie verklap nie.
Dit word só noukeurig verpak dat die honde op die lughawe dit nie eers ruik nie en daardie dag was ook nie anders nie.
Op die X-strale het hulle egter die pakkie meel gesien en toe is die gort gaar. “Net daar pak hulle die hele tas uit.
Die biltong en vleis pla hulle nie, maar, ai, daardie meel! “Ons praat nie mekaar se taal nie en hulle verstaan nie dat dit net braaimeel is nie! Nadat hulle vir meer as ’n uur en ’n half die meel van al die kante bekyk het, is ek laat gaan. Net daar het ek gesweer: nooit weer vlieg ek iets in Hong Kong in nie!”
• Helgard sê sy gunsteling stokperdjies is kosmaak en ’n mens se mond begin sommer water as hy praat van al die geregte wat hy graag maak, soos die basilliekruid Pesto (hy het net daar en dan sy resep met die joernalis gedeel). “Naweke baklei ek en my vrou om kos te maak!”
Hy vertel dat hy geleer het as jong seun om kos te maak, toe sy ma baie siek was. “Ek en my pa het lank brood en botter en ingelegde pere geëet.”
Op ’n dag het hulle albei besluit om in te spring en te leer kosmaak.
• Helgard se grootste trots en liefde is sy gesin. Sy regterhand is sy vrou, Mini, “wat van standerd sewe af al my skoolkys was.”
Hul oudste dogter is Dorette, wat getroud is met Hugo. Hugo is die hoof finansiële beampte van MacSteel in Hong Kong.
Minisa is ’n prokureur, maar werk vir ’n mediese fonds administrateur. Haar man, Rudolph, is ’n projekbestuurder.
Pieter, hul seun, boer met bloubessies, gemmer en makadamia neute in Witrivier.
Hilge, die jongste, is ’n pediatriese ortopeut in Bloemfontein.
* Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za). Do you have a news lead? Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us. Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a whatsapp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news.
