News

KLANKGREEP – “Ge-vroomvroom” het Mineralia inwoners warm onder die kraag

Is die woonbuurt Mineralia Middelburg se nuutste motorfiets renbaan?

Volgens klagtes van inwoners is die antwoord ja.

“Ek is raadop,” sê “’n gatvol Middelburger,” wat bylas dat hy al die geraas by sy raadslid gerapporteer het, sonder enige sukses.

“Ek glo meeste mense in Jeppestraat stem saam. Ons het ’n plaag, die naam is motorfietsryers. Hulle eien Jeppestraat tussen Uitbreiding 18 en die OK as hul eie renbaan en jaag, soms, tot my skatting, teen 140 kilometer per uur op en af in die straat”.

“Die renbaan maak vyf uur soggens oop, en sluit soms vier uur die volgende oggend. In die tussentyd moet almal luister hoe die motorfietse teen 120+ desibel hul kele skoonmaak. Dit is nie die eksepsie nie, dis die reël. Dis veelvuldige kere daagliks! Sondag tot Sondag!”.

Die klaer sê hy werk ’n 70-uur werksweek van die huis af waar hy gereeld op Skype vergaderings moet verskoning vra vir die geraas.
Sy kinders word ook tuis geskool en die geraas breek onnodiglik hul konsentrasie.

“Ek het dit aan ons raadslid gerapporteer, maar het geen genot gevind tot nou nie. Die kersie op die koek is een Sondag, hoor ek die, ge-vroomvroom reg buite my hek. Toe ek uitstap ry ’n verkeerskonstabel, sonder valhelm, op en af in die straat nadat hy die kalant afgetrek het!”.

Soortgelyke probleme word veral oor naweke ook in Kanonkop ervaar.

Met die aandklokreël tussen 23:00 en 04:00 daagliks, wonder inwoners hoe soveel voertuie nog op die pad kan wees, en of die polisie nog wetstoepassing doen.

Die sektor 3 en 4 radiogroepe het ook aan www.mobserver.co.za bevestig dat hulle “geskok is” tydens massapatrollies “om te sien hoeveel inwoners ignoreer die aandklokregulasies”.

Volgens die radiogroepe is die polisie apaties teenoor aandklok oortreders.

Die nuwe munisipale wetstoepassingseenheid is ook veronderstel om 24-uur beskikbaar te wees, met twee skofte wat daagliks inklok, een vir die dag en een vir die nag.

Inwoners wat probleme ervaar met motofietsryers gedurende die aankloktydperk kan die munisipale wetstoepassingseenheid by 013 249 7087 skakel.

Die nommer is 24, sewe dae per week, beskikbaar.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button