News

Vrou naby Alzu russtop op N4 aangerand, ontvoer

“Sy het beslis nie uit vrye wil saam hulle gegaan nie, hulle het haar gevat met ’n plan,” sê ’n bekommerde mnr. Combrink.

’n Groot soektog na ’n onbekende vrou wat by die Alzu russtop op die N4 ontvoer is, is tans aan die gang.

Die vrou is omstreeks 11:00 deur vier mans by die oprit na die russtop in ’n blougroen Hyundai of VW Golf geboender voordat daar met haar weggejaag is.

Daar was ook ’n wit bakkie langs die pad waar die vrou oorval is wat saam met die blougroen voertuig in Middelburg se rigting gejaag het.

Mnr. Rudi Combrink het die hele voorval gesien gebeur en vergeefs agter die ontvoerders probeer aanjaag.

Hy was onderweg na die russtop toe hy sien hoe die vrou wreed aangerand en aan haar hare rondgepluk word.

“Hulle het haar nie net geslaan nie, hulle wou haar seermaak!” het ’n geskokte mnr. Combrink minute terug aan www.mobserver.co.za vertel.

“Ek het soos ’n riet gebewe van die skok maar besef ek moet agterna,” sê mnr. Combrink.

Hy het op stadiums tot 180 kilometer per uur agter die ontvoerders aangejaag, maar hulle het so vinnig gevlug dat hy nie eers die registrasienommer van een van die voertuie kon neerpen nie.

Hy het die voertuig gevolg tot na die Hendrina afrit waar die ontvoerders onder hom uitgejaag het.

Hy vermoed dat hulle iewers ’n afdraaipad geneem en verdwyn het. Mnr. Combrink het dadelik ’n noodroep op ’n boere veiligheidsgroep uitgestuur, waarna ’n reuse soektog na die vrou en haar ontvoerders van stapel gestuur is.

Tot dusver kon die vrou nog nie opgespoor word nie.

Mnr. Combrink sê die publiek moet hulle oë oophou vir ’n vrou met lang blond hare wat saam met vier mans in ’n blougroen voertuig is.

“Sy het beslis nie uit vrye wil saam hulle gegaan nie, hulle het haar gevat met ’n plan,” sê ’n bekommerde mnr. Combrink. Persone met inligting word gevra om hul naaste polisiestasie te skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button