Verdagte erken diefstal, polisie laat hul gaan
’n Verdagte wat aan ’n sekuriteitsfirma erken het dat hy en sy makkers diesel by ’n myn gesteel het, is later deur die polisie laat gaan.
Mnr. Mike Kotze (Fidelity Sekuriteitsdienste) was verstom toe die polisie hom gister laat weet dat hulle die verdagtes vrygelaat het.
“En dit nadat die een ons sekuriteitsbestuurder probeer omkoop het om hom te laat gaan en aan my erken het dat hulle diesel gesteel het!”
Mnr. Kotze sê dat hul sekuriteitsbestuurder, Dennis Mukoma, Dinsdagoggend kort voor 08:00 onraad vermoed het toe hy ’n bakkie sonder nommerplate in die parkeerarea van die Middelburg Mall opmerk. Agterop die bakkie was daar drie 25 liter kanne.
Daar was egter water in die kanne. In die bakkie se kajuit was vyf persone.
Die oomblik toe hy hulle konfronteer, het die bestuurder van die bakkie weggehardloop en het hy en reaksielid John Joseph nog vier verdagtes gearresteer. Hulle het nie identifikasie aan hulle gehad nie, maar daar was van hulle wat erken het hulle is Mosambiekers.
Met deursoeking het hulle R2 570 by hulle gevind en een van die mans het mnr. Mukoma probeer omkoop daarmee. Een het ook dadelik aangedui dat hul wil onderhandel deur “alles te vertel”.
Die verdagte het vir mnr. Kotze gesê dat hulle 17 kanne diesel van 25 liter elk die vorige nag by ’n myn in die Wonderfontein area (naby Belfast) gesteel het. Hy het ook in detail vertel hoe die transaksies verloop het.
Daar is gesê dat hulle die kanne diesel in die industriële area afgelaai het. Die kopers het die geld in twee banke inbetaal en hulle het juis die R2 570 daardie oggend gaan onttrek by die Middelburg Mall.
Mnr. Kotze sê die verdagte het uit sy eie uit vir hulle vertel wat gebeur het in die tyd wat hulle vir die polisie gewag het. “Ons het van 08:00 tot 11:00 vir die polisie gewag.”

In hierdie tyd het hulle die myn, wie se naam deur die verdagte genoem is, gekontak, wat bevestig het dat daar diesel die vorige aand gesteel is.
’n Verteenwoordiger van die myn het ook na die Middelburg Mall gery en daar gewag vir die polisie. Terwyl hulle gewag het vir die polisie, het die bestuurder van die bakkie (wie se dokumente in die bakkie was) opgedaag “en gemaak asof hy van niks weet nie.”
Met die polisie se aankoms, is die verteenwoordiger van die myn aangesê om ’n saak van dieseldiefstal te gaan open op Belfast. Wat hy gaan doen het.
Die polisie het die verdagtes, waarvan een al vroeër die oggend onderneem het om uitwysings te gaan doen, saam met hulle geneem.
“Later het hulle ons laat weet dat niks gekry is nie en dat hulle die verdagtes weens ’n gebrek aan getuienis laat gaan het!” het mnr. Kotze kwaad gesê.
- ’n Bestuurder van ’n myn (wat anoniem wil bly) het vanoggend gesê dat dieseldiefstalle al vir jare ’n probleem is.
“Die myne verloor miljoene elke jaar aan dieseldiefstalle! Daar is van die diewe wat met groot 20 000 tankers kom en diesel net eenvoudig oortap. Sodra hulle uit is by die myn, kan jy nie bewys hulle het dit gesteel nie, want hoe bewys jy dit is die myn se diesel?”
Hy sê boere en vervoermaatskappye loop ook deur onder die dieseldiefstalle.
“Dit kos R15.50 per liter diesel en die diewe wat dit steel, verkoop dit net vir R11.
Die probleem is, die diesel wat in daardie tankers getap word, is gekontamineer met wat in die leë tanker was. En dan kan persone en besighede wat dit koop nie verstaan waarom hul voertuie en trokke se enjins oppak nie.” Hy is van mening dat hierdie tipe diefstalle sal voortduur solank daar ’n mark is daarvoor.
- Kapt. Khanyisile Zwane (polisiewoordvoerder) sê die verdagtes is laat gaan omdat die diesel nie in hul besit gevind is nie.
Sy het onderneem om navraag te doen waarom die polisie so lank gevat het voordat hulle na die toneel is.
Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za). Do you have a news lead? Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us. Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a WhatsApp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news.
