News

Afskeid geneem van skeidsregterbaas Dries Breytenbach

Van sy oud skeidsregter maats soos Ricus van der Hoven, Koos Snyman, Schalk van der Merwe en Oubaas Coetzer het die diens bygewoon.

Daar is gistermiddag afskeid geneem van die voormalige Mpumalanga skeidsregterbaas, Dries Breytenbach, tydens ’n diens in die Lighuis gemeente wat deur dr Tinus van der Merwe gelei is.

Van sy oud skeidsregter maats soos Ricus van der Hoven, Koos Snyman, Schalk van der Merwe en Oubaas Coetzer het die diens bygewoon.

Die joernalis, Tobie van den Bergh, het in ’n huldeblyk gesê sy pad met Breytenbach het al in 1978 begin “toe ’n skraal skeidsregtertjie vir Witbank en Bethal op die Johan van Riebeeck stadion geblaas het.

Hy het anders as daardie jare se skeidsregters soos Frik Jacobs en Salie Pienaar die spel laat vloei en voordeel toegelaat soos geen ander skeidsregter voor hom nie.

Oubaas Coetzer, huidige Mpumalanga skeidsregterbaas, wyle Dries Breytenbach se vrou Riekie, Steve Brits en Ricus van der Hoven.

Ek het ’n berig vir die Witbank Nuus oor die briljante skeidsregter gedoen en die volgende Saterdag het hy in die Sanlambeker, wat later die Superliga geword het, geblaas.”

Hy het Andre Watson aangehaal wat gesê het Dries was ’n gentleman, “’n stil kenner van skeidsregterswese. Ek was bevoorreg om hom te geken het.” Jonathan Kaplan, het gesê Dries het ’n reuse bydrae gelewer, nie net in Mpumalanga nie, maar ook in die breë Suid-Afrikaanse rugby landskap.

“Dries was ’n ongelooflike mens wat altyd sy medemens voor hom gestel het, ’n onselfsugtige man, wat ’n passie gehad het om ander te help, sodat hulle die leer van sukses kan klim.

Hy was self ’n Curriebeker skeidsregter in eie reg, maar het verkies om nie oor sy prestasies te praat nie.

” Die hoëprestasiebestuurder van Suid-Afrikaanse skeidsregters, Mark Lawrence, is ook aangehaal: “Toe my paaie met Dries kruis, het dit my op ’n journey gevat tot waar ek vandag is. Hy het my gementor en van sy filosofieë gebruik ek vandag nog.

Schalk van der Merwe, Koos Snyman, Ricus van der Hoven, Oubaas Coetzer en Steve Brits het saam met joernalis Tobie van den Bergh ’n erewag gestaan vir Dries Breytenbach.

Ek is waar ek vandag is as gevolg van Dries Breytenbach. Hy was die meester van voordeel. ’n Legende, ’n ikoon.

Hy was die vader van veldore. By HTS Middelburg het ek groot headsets gedra en hy het ’n klein radiotjie gehad om my te coach.

Ongelukkig het hy nooit die erkenning by SA Rugby gekry wat hy verdien het nie.”

Van den Bergh het vertel daar is een rugbystorie wat nogal versinnebeeld wie Dries was en dit was ook in die laat sewentigerjare toe hy die wedstryd tussen weer Bethal en Witbank se senior reserwe spanne hanteer het.

Witbank was later met meer as honderd punte teen nul voor en wou die Suidoos-Transvaal rekord verbeter, wat so iets soos 114-0 was.

Met nog tien minute speeltyd oor het hy die eindfluitjie geblaas.

Die Witbank spelers was woedend en wou hom net gryp, maar hy het net vasgeskop met: ‘Dit is nie in belang van rugby nie’.

Toe een van die spelers hom weer verlede jaar vra waarom het hy nie maar dat die wedstryd laat aangaan nie, het hy steeds gesê: ‘Dit was nie in belang van rugby nie’. Oud skeidsregters het vir hom ’n erewag by sy graf gestaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button