Eerste inname van Burgerlike Beskermingskollege 1971 vier 50 jaar
Die idee van militêre opleiding vir vroue in Suid-Afrika het reeds in 1967 ontstaan, en het later momentum begin kry toe druk vanuit die gemeenskap toegeneem het.

Samesprekings is gevoer met verskeie staatsdepartemente en vroue-organisasies om die haalbaarheid van so ’n kollege vir meisies te bepaal.
Dit het wyd byval gevind, mits die kurrikulum so saamgestel sou word dat die meisies nie as soldate opgelei word nie, dat hulle voltyds konstruktief besig gehou sou word en dat hulle te alle tye hul vroulikheid sou behou.
Die SA Weermag is die taak opgelê om, in samewerking met ander rolspelers, ’n program te ontwikkel waarvolgens vroue in die toekoms toegerus sou word om as gemeenskapsleiers met selfvertroue in nood- en ramptoestande te kon optree.
Middel 1970 is kol MJ du Plessis deur die Hoof van die Leër as eerste bevelvoerder die taak opgelê om ’n eenheid te stig, enkele vrouepersoneel te werf en hulle voor te berei vir dié pionierswerk.
Hulle sou bygestaan word deur manlike staandemaginstrukteurs en administratiewe personeel.
Dit was ’n totaal nuwe konsep en ’n uitdagende taak. Min het geweet watter reusestap dit sou wees om later vroue toe te laat om in die Weermag te dien.
Die Departement van Openbare Werke het ’n afgeleefde, ontruimde huishoudskool in George beskikbaar gestel, wat binne ’n paar maande omskep moes word om te voldoen aan militêre standaarde.
Nuutaangestelde vroue-offisiere en vrouestudente kon dus vanaf begin Februarie 1971 daar gehuisves word.
Begin Februarie 1971 meld 128 gekeurde meisies, hoofsaaklik skoolverlaters, onseker en in afwagting, met hul unieke talente, by die nuutgestigte Burgerlike Beskermingskollege op George (in die pragtige Suid-Kaap) aan vir opleiding.
Die eenheid is georganiseer in twee kompanies en vier pelotons: A Kompanie (Peloton 1 en Peloton 2) en B Kompanie (Peloton 3 en Peloton 4).
Slegs vier meisies het die hoogste rang van sersant behaal, terwyl daar ’n aantal korporaals en onderkorporaals was.
Dril, as basis van dissipline, was deel van die daaglikse roetine.
Uitstekende parades oral in die land is deur die loop van die jaar aangebied – onder andere tydens die Republiekdagvieringe in Kaapstad. Dit het ten doel gehad om die Kollege, asook die res van die Weermag, bekend te stel aan die publiek.
Tydens die Republiekdagvieringe in Kaapstad het die Kollege deel van die defileermars gevorm. Hulle is staande toegejuig deur die toeskouers. 
Om inspeksie te staan, was ’n riller wat die hoogste standaard van persoonlike en algemene netheid geverg het, maar so is die dissipline wat vandag nog by baie heers, gekweek.
Die kompetisie tussen die verskillende pelotons om die inspeksie te wen, was groot en belangrik.
Hierdie kompetisies en die drilkompetisies het goeie spangees bevorder.
Na die basiese opleiding het die studente opleidingskursusse gevolg wat uitsluitlik gebaseer was op burgerlike beskerming en wat ingesluit het noodhulp (nasionale gradering), selfverdediging, telekommunikasie, tikvaardighede, asook bestuurs- en onderhoudsopleiding (van groot passasiersbusse, ambulanse, vragmotors en sedanvoertuie).
Liggaamlike opleiding was ook deel van die program, en naweke het die studente diens gedoen by die ongevalleafdeling van die George-hospitaal om hul noodhulp-/verpleegkennis toe te pas en uit te brei.
Lewensvaardighede soos leierskap, openbare optrede, menseverhoudings, algemene kennis, optrede by formele geleenthede, hantering van belangrike gaste het aandag geniet.
Die Kollege het dus nie net gefokus op opleiding nie, maar ook op die afronding en vorming van die studente. Om leierskap en selfbestuur te bevorder, is uitmuntende studente bevorder en aangestel as onderkorporaals, korporaals en later sersante.
Sport was ’n belangike deel van die opleiding, en die studente het ’n groot bydrae gemaak in die Suidwestelike Distrikte se sukses in verskillende sportsoorte.
Verskeie van die studente het hul provinsiale kleure verwerf in atletiek, hokkie, pluimbal en netbal.
Op 21 April 1971 word die Kollege amptelik geopen deur mnr PW Botha (destydse Minister van Verdediging).
In sy toespraak het hy onder andere gesê: Die oprigting van die Kollege is ’n daad van vertroue in die vroue van die land. Hierdie meisies is toekomstige leiers. Hulle is fyn gekeur uit baie aansoeke.
By hierdie geleentheid onthul hy ook die embleem van die Kollege, die bergrosie (blushing bride – Surruria florida), wat die volgende simboliseer:
Hierdie spesiale blommetjie spreek by die aanskoue daarvan van teerheid, broosheid, ongeskondenheid en die ontluikende vroulikheid van die jong meisie. Die skugtere ligpienk niggie van die manjifieke protea simboliseer die uniekheid van die vroue-eenheid waar meisies tot volwassenheid groei om hul mooi land as vrou met oorgawe te dien.
Die Kollegelied, geskryf deur Doll de Villiers en getoonset deur Dirkie de Villiers, is ook in ontvangs geneem.
Die studente lewer ’n indrukwekkende vertoning van wat hulle geleer het en sluit dit af met ’n nog indrukwekkender parade. Uit hierdie groep studente word die eerste 12 leiers geïdentifiseer wat na drie maande van opleiding na die rang van onderkorporaal bevorder is om take binne hul onderskeie pelotons te verrig.
Na ’n verdere drie maande vind nog bevorderings plaas, wat die aantal leiers op 28 te staan bring.
Vier studente verwerf die hoogste rang van sersant en moet verantwoordelikheid neem vir ’n peloton.
Op 27 November 1971 voltooi hierdie studente hul opleiding. Hulle marsjeer deur die strate van George te midde van die musiek van die Leërorkes en blyke van bewondering van die skares wat in die strate saamgedrom het.
So het die meisies hul waardering teenoor die inwoners van George betoon met ’n indrukwekkende parade.
Tydens die finale parade het heelwat van die studente trofees ontvang van mnr. Botha.
Hy het gesê: “Dis met ’n gevoel van trots en dankbaarheid dat ons terugkyk oor die afgelope jaar se werksaamhede by dié Kollege. Hierdie inrigting wat enig is van sy soort in ons land en in Suidelike Afrika het onteengseglik sy bestaan geregverdig.”
Sy woorde was ’n akkurate opsomming van die sukses van die Kollege. Die waarde van die Burgerlike Beskermingskollege sal eers werklik bewys word wanneer die studente wat hulle kursus hier voltooi het, hul invloed laat geld op die verskillende terreine van die lewe waarop hulle voortaan gaan beweeg, het mnr Botha bygevoeg.
Die eksperiment was ’n sukses!
Die sukses van die eerste jaar se eksperiment het die weg gebaan vir ander meisies om ook by die Kollege opgelei te word. Uit die eerste groep het 32 hulle permanent by die SA Leër aangesluit; so was hulle weer eens die pioniers vir vroue in uniform.
Later is die naam Burgerlike Beskermingskollege verander na die SA Leërvrouekollege en die opleiding aangepas na volwaardige militêre opleiding, maar in daardie stadium slegs in ondersteuningsdienskorpse soos logistiek en personeel.
Aan die begin van 1994 word die Leërgimnasium in Heidelberg herstig, waarna die leieropleiding van jong manne in die SA Leër daar aangebied word.
Aan die einde van 1998 is op die hoogste vlak besluit om die Kollege in George na 27 jaar te sluit en dit by die Leërgimnasium te inkorporeer sodat alle leieropleiding vir manne en vroue eenvormig kan plaasvind.
In die Leër het dit geïmpliseer dat die studente ook diens kon doen in die korpse van hul keuse, soos die Pantser- en Infanteriekorps.
Ander afdelings van die Weermag volg die Leër se voorbeeld en lei hul eie vroue op wat nie net vredestydse diens kan verrig nie, maar ook tydens operasionele omstandighede kan optree.
Die studente van 1971 het op baie terreine presteer en altyd geanker gebly in hul Alma Mater se leuse: Wees gereed!
•Indien daar Middelburg vroue is wat by die Kollege opgelei is kan hulle die onthou van daardie tye deel met sjani@mobserver.co.za of bel haar by 013 243 1434.
Notice: Coronavirus reporting at Caxton Local Media aims to combat fake news Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Caxton Local Media is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19. Readers with any comments or queries may contact National Group Editor Irma Green (irma@caxton.co.za) or Legal Adviser Helene Eloff (helene@caxton.co.za). Do you have a news lead? Contact our editorial office on 013 243 1434 or our standby number for emergencies on 072 248 3855 to share your story with us. Follow us on the Middelburg Observer Facebook group or page or send a WhatsApp to 072 248 3855 with the words “add me” for the latest news.
