News

Internasionale model is ’n boorling van Middelburg

Sy is ’n internasionale voorbladmodel, die gesig van ’n bekende skoonheidsproduk, verskyn gereeld in televisie-advertensies en ja, haar wortels is gesetel in Middelburg!

Onthou julle nog die langbeen dogtertjie van Laerskool Middelburg, wat later uitstekend presteer het by HTS Middelburg en op universiteit?

Dit is die einste Lené van den Berg!

Sy het verlede naweek weer op Middelburg vir haar familie kom kuier en ons moes mooipraat om dié nederige meisie te kry om van haar glansryke loopbaan te vertel.

“Ek was seker 10 jaar oud, toe ek al in juffrou Marietjie Meiring se klas, my droom neergepen het. Ek het gedroom van Hollywood faam en dat my gesig op tydskrifte reg oor die wêreld moet pryk. Ek is ongelooflik dankbaar dat so baie daarvan waar geword het,” begin sy vertel.

As kleuter was sy in Kleuterskool Gansiekeur en het op twee en ’n half jarige ouderdom al met ballet begin by me. Gail Hailstorm.

Daarna was sy in Laerskool Middelburg.

“Daar is ek die geleentheid gebied om my talente as kultuur-dier uit te lewe. Alhoewel ek ’n gebalanseerde opvoeding daar ontvang het, kon ek my passies in dans, sang en redenaarskuns beoefen en slyp.”

Die blootstelling met betrekking tot kultuurwerke, kunswedstryde, die ATKV en ook die kampioene van die uitvoerende kunste in Rustenburg, het vir haar ’n platform gebied om met haar talente te woeker.

Lené is ook verkies tot onderhoofdogter van Kultuur in haar graad sewe jaar, “en die leierskapsontwikkeling wat hulle met ons gedoen het, is steeds vir my van onskatbare waarde.”

Sy het haar hoërskoolloopbaan aan HTS Middelburg voltooi.

“Hierdie unieke skool het kultuur van groot waarde geag en saam met die akademiese en sterk waardegedrewenheid by die skool, het my verseker toegerus vir die lewe, Ek was besonder trots om as hoofdogter van HTS verkies te word.”

In haar graad agt jaar, het haar Hollywood droom al werklikheid geword.

Lené is gekies vir die nasionale span om Suid-Afrika in Los Angeles te verteenwoordig met dans. Sy het daar ’n goue medalje vir ballet en silwer vir jazz verwerf.

Die kompetisie het ook ’n model-afdeling gehad “en die saadjie is beslis toe geplant…”

HTS se vele kultuur-aktiwiteite, die Groot Raas, revue’s en Mej. HTS-aande het skool vir haar ’n lekker en positiewe ervaring gemaak.

“Die aanmoediging om akademiese prestasie was egter altyd daar, en ek het matriek geslaag met ’n gemiddelde A en twee onderskeidings.”

Sy het ’n onderwyserskwalifikasie verwerf in Moderne Dans, Tap en Hip Hop, asook die gevorderde eksamen in ballet by die Royal Academy of Dance van England geslaag.

Lené voeg hier by dat sy trots is daarop dat sy haar skool elke jaar by die ATKV Redenaarskompetisies op Provinsiale vlak verteenwoordig het.

“Dit was besonder uitdagend om vol te hou met al hierdie aktiwiteite, veral in my matriek jaar, maar danksy HTS kon ek die druk op universiteit, asook nou in die modebedryf hanteer.”

Na skool was sy onseker in watter rigting sy behoort te studeer, “want eintlik wou ek net dans, sing en modelwerk doen.”

’n Kundige van die Noordwes Universiteit het vir haar baie goeie raad gegee om eerstens die moeilike deel (van studeer) af te handel en daarna al die lekker dinge te doen waar haar passie lê.

Net daar begin sy met haar vier jaar studies in die graad B Comm Rek (CA) en doen haar Honneurs in Finansiële Rekeningkunde.

In haar tweede jaar het sy ’n “Golden Key” toekenning ontvang vir akademiese prestasie en is in haar finale jaar verkies tot Mej. Kampus, die amptelike skoonheidstitel van die Noordwes Universiteit op Potchefstroom.

“Êrens in my tweede jaar het ek en my ma (Ena) ’n funksie in Pretoria bygewoon, toe ’n model agent my op die skouer getik en ’n modelkontrak aangebied het. Ek was bitter opgewonde en het dit dadelik aanvaar.”

Dit was egter uitdagend, omdat sy ten spyte van haar stywe kursus, naweke en selfs tydens eksamen en toetsreekse, reg oor die land moes modelwerk doen.

“Na afloop van my studies, moes ek óf gaan artikel, óf begin werk en ek het toe besluit om die brawe stap te neem om vir ’n jaar of drie modelwerk te doen.”

Sy was baie gelukkig om aanbiedinge van vier agentskappe in die Kaap te ontvang, en het aanvanklik aangesluit by Outlaws Models, maar is tans gekontrakteer deur ICE Models.

“Ek dink egter dat min mense besef hoe ’n harde bedryf die modewêreld is. Nie net werk ek meestal oor naweke nie, maar moet ek 04:00 al vars en mooi op stel aanmeld en is mens onderworpe aan heelwat verwerping.”

Sy gaan byna daagliks vir onderhoude, waar jou voorkoms, energie en geskiktheid gemeet word teen honderde ander mooi en geskikte kandidate.

“Jy word meer as dikwels te lig bevind deur die agentskap of kliënt. Ek werk meestal internasionaal, en die standaarde is geweldig hoog. ’n Baie sterk waardestelsel, gesonde selfbeeld en selfwaarde is dus baie belangrik. Middelburg en sy mense het my beslis ’n platform gebied om my persoonlikheid, talente en vaardighede te ontwikkel om sterk te staan in myself.”

Lenê sê om ’n model te wees vra baie toewyding en verantwoordelikheid om jou lyf, hare en vel in tip top kondisie instand te hou.

“Ek oefen dus gereeld en probeer regtig om so reg moontlik te eet. Maar ek is beslis nie van daardie modelle wat van slaaiblare en water alleen leef nie. My velsorgroetine is gelukkig ook danksy my borg, Nimue, altyd versorg.”

Sosiale media is vir hierdie bedryf baie belangrik, en Lené stel ook baie daarin belang en sy hoop dat sy eendag vir voornemende modelle touwys kan maak daaroor.

“Die voorkoms trend in die modelbedryf en is baie anders as wat mense dink. Kleredrag en grimering gaan jou beslis nie help om ’n werk te kry nie. Dis werklik hoe jy geskape is, of jy genoeg energie en passie het, en of jy bied wat die kliënt soek, wat die deurslag gee. Ek is egter mal oor die modebedryf, veral klere en velsorg. Ek glo dat ek in die toekoms hierin sal wil spesialiseer.”

Sy is bevoorreg om nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in lande soos London, Turkye, Nepal, Amsterdam, Parys en veral in Duitsland modelwerk te doen.

Lené verskyn nie net op internasionale tydskrifte nie, maar is ook gereeld op TV-advertensies te sien, verskyn op ’n voorblad van ’n geestelike boek en is al op talle winkelvensters van onder andere Jet en Mr Price te sien.

“Ek woon tans in die Kaap en reis vir groot gedeeltes na veral Europa vir werk. Wanneer ek nie werk nie, is ek gaande oor als wat die Kaap in terme van die kos, kultuur en ontspanning bied. Ek het ’n uitgebreide vriendekring en is waarlik gelukkig om soveel lekker dinge saam met hulle te kan doen.”

• Lené wil graag almal, van haar ouers, tot by die onderwysers en persone wat haar toegerus het op vir haar suksesvolle loopbaan, van harte bedank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button