Vrou en seun deur ‘Blouligbende’ op N12 gekaap
Terwyl ’n vrou en haar sestienjarige seun vreesbevange onder ’n kussing in hul eie voertuig moes lê na ’n kaping, het sy haar hande losgewoel om aan sy gesig te vat, om hom te kalmeer.
Op ’n “Stop Misdaad”-groep vertel Gerda Toms dat sy en haar seun, Joshua, dankbaar is om te lewe.
Hulle is omstreeks 19:40 op die N12 gekaap, deur ’n groep wat hulle voorgedoen het as polisiemanne. Daar is meer as twee ure met hulle rondgery, waarna hulle in ’n veld afgelaai is.
Die hele tyd is hulle gedreig dat hulle doodgeskiet gaan word as hulle in Afrikaans met mekaar praat.
Toe die aanvallers in die veld stop, het me. Toms aangeneem dat sy en haar seun doodgeskiet gaan word.
“Ek en my seun was Vrydagaand in ’n nagmerrie gedompel. Dit was so vinnig, dis nou nog so onwerklik.”
Me. Toms het Joshua Vrydagmiddag gaan oplaai by Forever Resorts Loskopdam, waar hy as lid van die Sentraal Gautengspan aan die Suid-Afrikaanse Kunsaashengel proewe deelgeneem het.

Hulle was baie opgewonde, want Joshua het algeheel derde in die junior kategorie geëindig en is in die Proteaspan opgeneem.
Me. Toms het met haar Land Cruiser gery, want hulle moes al Joshua se kamptoerusting en hengelgerei inkry.
Hulle is omstreeks 18:00 weg en het om 19:00 die N4 bereik, op pad na Kempton Park.
Sy sê dat hulle die N12 afrit geneem het en net verby die Total vulstasie was, toe sy blou ligte agter hulle opmerk en ’n polisiesirene hoor.
Lees ook: Blouligbende kaap kolonel
Dit het vir haar gelyk soos ’n wit driereeks BMW wat agter haar ry en die voertuig het haar van die pad af gedruk. Sy het geen onraad vermoed nie en afgetrek.
In haar truspieëltjie het sy opgemerk dat die persoon wat aangestap kom, ’n blou uniform aanhet.
“As ek nou daaraan dink, kon dit ’n uniform gewees het wat lyk soos ’n sekuriteitsfirma ook, maar op daardie stadium het ek aangeneem dit is ’n polisieman,” het sy vanoggend aan www.mobserver.co.za vertel.

Me. Toms het haar venster net op ’n skrefie oopgemaak en gehoor hoe hy vra vir haar bestuurslisensie.
Die “polisieman” wou weet vanwaar hulle is en waarheen hulle op pad is. Hy wou ook weet wie is die passasier by haar.
“My kar was in rat, sodat ek enige oomblik kon wegtrek, maar hy het my aandag afgetrek met die flitslig wat hy in die kar geskyn het.”
Terwyl hy heen en weer met die flitslig skyn, het hy gesê sy moet die kar oopsluit.
Lees ook: Verkeerskonstabel met blou lig kaap trok op N4
“Ek wou nie moeilikheid maak nie, en sluit toe die deure oop.”
Die oomblik toe sy die knoppie druk, het die deure aan Joshua se kant oopgevlieg en is haar deur ook oopgeruk.
“Hulle het bo-op my en Josh gespring!”
Sy het gehoor hoe die een wat agter oopgemaak het, die artikels wat op die agterste sitplek is, langs die pad uitgooi.
Sy en Joshua is daarna deur die gaping tussen die voorste en agterste sitplekke deurforseer. Hulle veiligheidsgordels was nog vas en hulle moes dit vinnig losmaak.

Me. Toms se hande is agter haar rug vasgemaak en haar seun se hande is voor op sy bors met kabelbinders vasgemaak.
“Ons buffs is heeltemal oor ons gesigte getrek, waarna hulle ons afgedruk het op die sitplek en ’n kussing bo-op Josh gesit het.”
Me. Toms onthou hoe benoud sy geraak het, waarop sy in haar paniek om asem te kry, haar hande uit die kabelbinders forseer het.
Hul koppe het naby mekaar gelê en me. Toms het saggies haar hande beweeg om aan Joshua se gesig te raak, om hom gerus te stel en om te voel of hy asemhaal.
Sy het gevoel hoe koud sy hande is, aangesien die kabelbinders te styf om sy arms was. Sy het ook met hom probeer praat, maar een van die kapers het vir hulle geskree: “Speak in English that I can understand you. If you speak in Afrikaans, I will shoot you.”
Lees ook: Blue light hijackers target N4 Bronkhorstspruit
Joshua het hierop vir sy ma gesê: “Mom, please do what they ask,” en het hy vir hulle gesê: “we will do what you want. We will cooperate.”
Hulle skat dat die kapers sowat ’n uur met hulle rondgery het. In hierdie tyd het hulle gevra vir hul kaarte se pinkodes en sleutelwoorde om hul selfone oop te maak.
Intussen het me. Toms se veertienjarige dogter, Carmen, hulle begin bel, omdat hulle nie by die huis uitgekom het nie. Die kapers het egter die oproepe geïgnoreer.
Me. Toms onthou dat die kapers op ’n stadium gestop het en dat nog ’n persoon by hulle ingeklim het met ’n sak, met artikels in wat ’n “klingelgeluid” gemaak het. Sy het aangeneem dit is wapens.
“Ons het nooit tydens die hele kaping enige wapens gesien nie, maar het ons nie teëgesit nie, omdat ons nie geweet het of hulle wapens het nie.”
Later het sy gehoor hulle ry ’n hele ent in ’n veld in. Nadat hulle gestop het, het hulle gevra wat se tipe opsporingstelsel daar in die voertuig is en hulle gemaan om steeds stil te lê.
Ma en seun het gehoor hoe daar gekarring word aan iets vir sowat 40 minute, waarna die deur by hulle oopgemaak is.
“Een kaper het gesê: ‘we wil take you out now,’ en ek het gewonder of hulle bedoel ‘take out’ soos in doodskiet of dat hulle ons net uit die kar gaan haal.”
Me. Toms het haar hande op Joshua se bors gesit en vir hom gesê hoe lief sy hom het. Sy het ook vir hom gesê wat moontlik met haar kan gebeur en dat hy sy oë moet toemaak, sodat hy nie hoef te sien wat gebeur nie.
Die kapers het me. Toms uitgehaal en in die veld laat sit. Sy het gevra waar is haar kind, maar niemand het geantwoord nie.
“Ek was bang hulle ry weg met hom.”
Die boosdoeners het egter intussen vir Joshua uitgehaal, ’n mes teen sy keel gesit en gedreig dat hulle hom gaan skiet. Die lem het ’n snyplekkie teen sy nek gemaak en me. Toms het dit gesien toe hulle aankom, maar sy het niks gesê nie, sodat haar kind nie ontsteld moet wees nie.
Die kapers het net voor hulle gery het, vir haar gesê om die foon te antwoord, aangesien hy die hele tyd lui.
Me. Toms het met Carmen en haar man, Morné, gepraat en vir hulle gesê dat alles reg is, maar dat daar net ’n verkeersopeenhoping is.
Nadat die kapers weg is, het ma en seun in die rigting geloop waar hulle voertuie hoor ry het. Hulle het in die rigting van ’n kompleks geloop, waarop daar ’n polisievoertuig uitgery gekom het.
“Ek was baie bang, maar die polisieman was ongelooflik behulpsaam en het toegelaat dat ek my man en dogter bel en ons ook na die Dawn Park Polisiestasie in Boksburg geneem.”
Sy weet talle mense gaan haar kritiseer en sê dat ’n mens nie op die hoofweg moet stop nie, nie eers vir ’n pap wiel nie.
“As jy egter in daardie oomblik is, is dit anders.
Jy beleef dit oor en oor en sê die hele tyd: ‘wat as’. Die belangrikste is egter: ons is hier!”
• Me. Toms en Joshua het beide blou merke op hul arms opgedoen waar die kabelbinders hulle gedruk het.
• Die 4.5 liter Land Cruiser VXR200, is steeds weg. Me. Toms sê dié Land Cruisers word nie meer gemaak nie en dat daar talle ander soortgelyke voorvalle reg deur die land is waar kapers hulle toespits op hierdie tipe Land Cruisers.
“Ons het verlede jaar R1.5 miljoen vir hom betaal, maar ek sien hulle verkoop nou tweedehands vir R2 miljoen!
• Nadat me. Toms van hul nagmerrie ondervinding op Facebook vertel het, het talle mense boodskappe gelaat waarin gesê is dat daar in die direkte omgewing vier soortgelyke voorvalle was die afgelope tyd in die Delmas omgewing.
Hul kaping word ook deur die Delmas polisie ondersoek.
• Mnr. Bruce Engelbrecht het haar ook gekontak en gesê dat hy en sy seun op presies dieselfde manier tussen Villiers en Heidelberg gekaap is op 18 Februarie vanjaar. Die booswigte is ook weg met presies dieselfde Land Cruiser.
• Www.mobserver.co.za het ook met hom gepraat en sy verhaal kan elders gelees word.
• Die afgelope jaar word Gauteng en Mpumalanga ook deur rowers geteiken wat staalpenne en spykers op die hoofweë gooi, wat mense noodsaak om te stop. Drie weke gelede is een van hierdie rowers in Gauteng gearresteer na ’n optrede deur die polisie en sekuriteitsmaatskappye.
• Die Blouligbende, ’n groep wat hulle voordoen as polisiemanne, is al vir jare bedrywig op die hoofweë en daar is jare gelede talle mense ook in die omgewing van Middelburg op die N4 beroof.
• Slagoffers van die ‘Blouligbende’-kapers of van die rowers wat staalpenne op die hoofweë gooi, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1434 , or stuur ’n e-pos na daleen@mobserver.co.za.
