News

Pretoria se trots teen Middies in kriekethalfeind

Sorg dat jy vroeg by die Middie-ovaal is, want die krieketaksie begin al 09:00.

Die tafel is gedek vir ’n titaniese stryd wanneer Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Middelburg mekaar in ’n Fain Noordvaal-halfeindstryd op die Middies-ovaal pak.

Sorg dat die kampstoele al Saterdagoggend (31 Oktober) uitgepak is voordat die eerste bal geboul word. Die wedstryd skop om 09:00 af.

Albei skole het die afgelope naweek indrukwekkende oorwinnings behaal.

Afrigter Shaun Neethling se span het Hoërskool Monument geklop en Klofies was vernietigend teen Dr. Malan.

Middies-kolwers om dop te hou, is Eduan Strydom, Frederik Boshoff, Gavin Genis en Nijan Swart.

Genis het ’n blitsige 58 lopies van slegs 39 balle aangeteken teen Monnas, terwyl Swart met ’n geduldige beurt van 62 lopies van 82 balle, die telbord aan die gang gehou het.

Die span se kaptein, Herman Potgieter, lei van voor met die bal in die hand. Hy het vyf paaltjies laat kantel vir slegs 30 lopies in sewe beurte.

Die ervare Hendré Nel is ook suinig. Hy het ’n belangrike bydrae gelewer deur twee paaltjies vir slegs 17 lopies in ses beurte te laat spat, teen die span van Krugersdorp.

Waterkloof se Wian du Plessis is hulle groot gevaarman. Hy het 175 lopies teen Dr. Malan gemoker en was steeds daar toe die Klofies-kolfbeurt eindig.

Onder die boulers het Jean Cloete uitstaande syfers teen Dr. Malan aangeteken. Hy het ses beurte afgestuur, drie paaltjies laat kantel en net 15 lopies afgestaan.

Waterkloof het met 146 lopies gewen.

Middies het twee jaar terug geskiedenis gemaak deur die eerste keer in ’n Noordvaal-halfeindstryd te speel. Die wedstryd was ook tuis teen Waterkloof. Hoërskool Middelburg het daardie dag teen alle verwagtinge in ’n goeie oorwinning behaal.

Hoërskool Middelburg: Eduan Strydom, Frederik Boshoff, Herman Potgieter (k), Gavin Genis, Nijan Swart, Juanru Brazelle (paaltjiewagter), Hendré Nel, Puren Nieman, Wilré Cilliers, PJ van der Merwe, Ricardo Ras. Denis Munteaunu en Janic Swart is die instaanspelers.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button