News

Rugby kaptein se pa sterf weens Covid

Dirk Rademan (46), die man wat sy bed ’n paar dae gelede in die intensiewe eenheid prys gegee het om iemand anders te help, is gistermiddag kort nadat hy in dié eenheid opgeneem is, oorlede.

“Dit is hoe my pa was. Hy het ander altyd voor homself gestel,” het sy seun, Dirkie, vanoggend gesê.

Hy het sowat twee weke gelede sy pa na die Life Midmed Hospitaal geneem, omdat hy erg siek geword het weens die Covid-19 virus. Kort na sy opname is die gesin laat weet dat hy ook diabetes onder lede het.

Donderdag het die hospitaal toegelaat dat mnr. Rademan se vrou, Jackie, hom kom besoek.

Hy is gister, kort nadat me. Judette Franzoso in die intensiewe eenheid gesterf het, in intensief opgeneem. Hy is om 16:00 oorlede.

Pa en seun het ’n ongelooflike verhouding gehad en sê Dirkie “dat my pa my beste vriend was. Met die besighede wat ons gestig het, Ravana en Denergy, het ons vir almal dié uitgelig: ‘Die besighede is gestig tussen pa en seun, want niks kan ’n pa en seun verhouding breek nie.”

Pa en seun Dirk en Dirkie Rademan het ’n besondere verhouding gehad.

Hy sê sy pa het hom alles van besigheid geleer en hom gedruk en ondersteun om goeie kwalifikasies te behaal.

“My pa was ook by elke wedstryd wat ek gespeel het langs die veld.” Dirkie onthou hoe trots sy pa was toe hy as kaptein van die Middelburg Rugbyspan gekies is. toe hy in 2019 Sportman van die jaar was en toe hy vir die Pumas gespeel het.

“My pa was ’n legende in Middelburg. Oral waar hy gekom het, het hy mense gehelp. Hy sou alles los, net om gou te gaan help. Soos vir die bejaardes van die SAVF Tehuis, waar hy gereeld ietsie vir hulle gaan regmaak het en hulle hom sommer met melktert betaal het. Dit was vir hom genoeg.”

Mnr. Rademan het verder gehelp met afrigting van die o/14 rugbyspan van HTS Middelburg en was lid van die Albatros Diepsee Hengelklub. “My pa was deel van die OET Springbokspan, waar hy die skipper van hul span se boot was.”

Mnr. Rademan was ’n gewilde lid van die Albatros Diepsee Hengelklub.

Met trots in sy stem vertel hy dat sy pa ook ’n oorsese kontrak vir Columbus Stainless bestuur het.

Daar is nog geen reëlings getref nie en Dirkie sê hul plan is om net ’n klein geselligheid vir familie en vriende te reël.

Mnr. Dirk Rademan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button