Middelburg se verlore seuns: ’n Terugblik op die Eerste Wêreldoorlog
Middelburg se 19 gesneuweldes se lewensverhale en opofferings tydens die Eerste Wêreldoorlog word herdenk.

Om 11:00 op 11 November 1918 het die kanonne aan die Wesfront stil geword. Die wapenstilstand het die gevegte van die Eerste Wêreldoorlog beëindig, maar kon nie die verlies ongedaan maak wat gemeenskappe dwarsoor die wêreld reeds gely het nie.
Vir 19 Middelburgers het die laaste taptoe reeds geblaas. Hulle sterftes vorm deel van ’n groter verhaal waarin ’n plaaslike gemeenskap verbind is aan Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog, die gewapende rebellie van 1914-1915 en die politieke herskikking wat daarop gevolg het.
Op Middelburg se Senotaaf word die slagoffers van “The Great War” met die woorde ‘hunne namen leven voor altyd’ herdenk. Die name van 19 Middelburgers is op die monument aangebring, maar die herinnering aan hul lewens en dade het ongelukkig mettertyd begin vervaag. Tog is daar besondere inligting oor hierdie plaaslike helde se ervarings tydens die Eerste Wêreldoorlog beskikbaar.



Hierdie artikel plaas Middelburg se herinnering binne die breër historiese konteks. Dit onderskei tussen die einde van die gevegte in 1918, die Senotaaf as gedenkteken vir die gesneuweldes, die ontstaan van die twee minute se stilte en die verdeeldheid wat die oorlog reeds in 1914 binne die Unie van Suid-Afrika veroorsaak het.
’n Jong en kwesbare ekonomie
In 1914 was die Unie van Suid-Afrika slegs vier jaar oud, en sy ekonomie was sterk aan Brittanje en die internasionale handelstelsel verbind. Landbou het ’n groot deel van die bevolking onderhou, terwyl kommersiële boere wol, vrugte, mielies en ander produkte vir plaaslike en oorsese markte gelewer het. Plaaslike vervaardiging was nog beperk, en baie verbruikers- en nywerheidsgoedere moes ingevoer word.
Die ekonomiese klimaat was reeds voor die oorlog gespanne. Myn- en spoorwegwerkers het oor lone, werksekerheid en arbeidsbeleid gebots. Afleggings op die spoorweë het in Januarie 1914 tot ’n algemene nywerheidstaking gelei. Die regering het krygswet ingestel en die jong Unieverdedigingsmag en burgerkommando’s gebruik om die staking te onderdruk.
Die Middelburg-kommando is ook gemobiliseer om die spoorwegstaking te onderdruk. Dit het ernstige verdeeldheid in die dorp veroorsaak, wat tydens die aanloop tot die Eerste Wêreldoorlog sou oorkook.

Toe die oorlog in Augustus 1914 uitbreek, het dit werksgeleenthede en ’n bron van inkomste gebied aan boere wat ná die verskroeide-aarde-beleid van die Anglo-Boereoorlog ’n sukkelbestaan gevoer het. Baie jong manne het as gevolg van ondervoeding in die konsentrasiekampe ontwikkelingsagterstande opgedoen, wat hul werksgeleenthede beperk het. Deelname aan die oorlog het egter ’n konflik tussen nasionalistiese oortuigings en ekonomiese behoeftes by talle individue laat ontstaan.
Die Unie tree tot die oorlog toe
Toe Brittanje op 4 Augustus 1914 oorlog teen Duitsland verklaar het, het die Unie van Suid-Afrika, as ’n Britse dominium, ook in ’n oorlogstoestand verkeer. Die regering van eerste minister Louis Botha en minister van verdediging Jan Smuts het besluit om die Britse oorlogspoging aktief te ondersteun.
Die Unie het reeds verantwoordelikheid vir sy eie verdediging aanvaar, sodat Britse troepe elders ontplooi kon word. Hierdie ontwikkeling het ’n lang aanloop gehad: die Britse garnisoen is reeds in 1908, te midde van die opbou na die oorlog, uit Middelburg onttrek. Dit het ’n verdere negatiewe uitwerking op die dorp se ekonomie en werksgeleenthede gehad.
Op 7 Augustus 1914 het Brittanje die Unie versoek om die Duitse radiostasies in Duits-Suidwes-Afrika te neutraliseer. Die Duitsers se hoofradiostasie, die Funkenstation, was in Windhoek geleë. Dit is in 1913 gebou om direkte radiotelegrafiese kommunikasie met Duitsland via herhalerstasies moontlik te maak. Daar was ook kleiner of aanvullende radiostasies en -torings in ander dorpe, waaronder Swakopmund en Lüderitzbucht. Die toerusting in Swakopmund is in Augustus 1914 na Tsumeb verskuif, terwyl dié in Lüderitzbucht na Aus verskuif is.
Die Botha-kabinet het tot die versoek ingestem. Die besluit was strategies belangrik omdat die radiostasies Duitse skeeps- en militêre kommunikasie ondersteun het. Die Unie se toetrede tot die oorlog het terselfdertyd egter die diep politieke verdeeldheid binne die jong land blootgelê.

Die 1914-rebellie
Vir baie Afrikaners was deelname aan ’n Britse oorlog slegs 12 jaar ná die Anglo-Boereoorlog onaanvaarbaar. Die herinneringe aan die vernietiging van die Boererepublieke, die verskroeide-aarde-beleid en die konsentrasiekampe was nog vars. Republikeinse aspirasies, teenkanting teen Botha en Smuts en weerstand teen ’n inval in Duits-Suidwes-Afrika het in Oktober 1914 tot ’n gewapende rebellie gelei.
In Middelburg het die konflik ook begin oorkook. In 1914 het pro-Britse vandale die bewoording op die hoeksteen van die Gedenkkerkie vir die konsentrasiekampslagoffers, op die huidige HTS-terrein, beskadig as ’n simbool van hul verset teen Boerenasionalisme.
Leiers soos Christiaan de Wet, Christiaan Beyers, Manie Maritz en Jan Kemp het rebellemagte aangevoer. Die regering het krygswet afgekondig en sowat 32 000 soldate teen ongeveer 11 476 rebelle ontplooi. Die opstand was swak gekoördineer en is teen Februarie 1915 onderdruk.
Die meeste gewone rebelle is later vrygelaat, maar die teregstelling van Jopie Fourie voor ’n vuurpeloton op 20 Desember 1914 en die behandeling van die rebelleleiers het Afrikanernasionalisme versterk.
Die krygswet het ook voorsiening gemaak vir breër aanhouding, maar die interneringskampe tydens die oorlog moet onderskei word van die gevangenhoudingen verhoor van rebelle. Die kampe was hoofsaaklik bedoel vir burgerlike ‘vyandelike onderdane’: Duitse en Oostenryks-Hongaarse inwoners en reserviste wat die regering as ’n moontlike veiligheidsrisiko beskou het.
Die hoofkamp was Fort Napier, ’n voormalige militêre basis in Pietermaritzburg, waar ongeveer 2 500 mense, hoofsaaklik mans uit die Unie en Duits-Suidwes-Afrika, uiteindelik aangehou is. ’n Afsonderlike kamp by Tempe, naby Bloemfontein, het onder meer geïnterneerde vroue en kinders gehuisves wat uit ander dele van Afrika gedeporteer is.
Rebelle wat tydens die opstand gevange geneem is, is daarenteen as opstandelinge aangehou en later deur militêre of spesiale geregshowe verhoor. Hulle het dus nie die hoofbevolking van hierdie burgerlike interneringskampe gevorm nie.
Verskeie Middelburgers was betrokke by die bewaking van geïnterneerdes en militêre installasies, asook by ondersteuningswerk. Twee manne uit die Middelburg-omgewing wat deel van die kampkommandant se personeel by Roberts Heights, later Voortrekkerhoogte en vandag Thaba Tshwane, was, het in 1918 aan longontsteking ná griep gesterf.
Die weerman, later korporaal, Daniel Hermanus Johannes Jones en weerman Johannes Petrus Theodorus Goosen was albei van Tonteldoos in die Mapochsgronde by Stoffberg, ’n streek wat destyds met ’n arm landelike gemeenskap verbind is.
Jones was tydens die Anglo-Boereoorlog in die Middelburgse konsentrasiekamp, waar sy 16 maande oue broer gesterf het. Hy het as telefoonoperateur gedien. Op 19 Oktober 1918 is hy met griep in No. 4 Algemene Hospitaal, die latere 1 Militêre Hospitaal, opgeneem. Hy is op 25 Oktober op die gevaarlys geplaas en is twee dae later aan longontsteking oorlede.
Goosen is op 28 Oktober 1918 in dieselfde hospitaal opgeneem, die dag ná sy kameraad van Tonteldoos se dood. Hy is op 3 November 1918, eweneens aan longontsteking, oorlede. Die Groot Griep het sy tol begin eis! Albei is in die Ou Militêre Begraafplaas in Thaba Tshwane begrawe.

Die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika
Nadat die rebellie bedwing is, kon die Unieverdedigingsmag sy aandag op Duits-Suidwes-Afrika vestig. Suid-Afrikaanse magte het die Duitse kolonie vanuit verskillende rigtings binnegedring. Botha het die noordelike opmars gelei, terwyl Smuts die suidelike magte gekoördineer het.
Die groot afstande, watertekorte en woestyntoestande het die operasie bemoeilik, maar die Unie se numeriese en logistieke oorwig was deurslaggewend.
Die Duitse magte het op 9 Julie 1915 oorgegee. Die verowering het ’n onmiddellike bedreiging aan die Unie se grens verwyder en Duitse kommunikasiegeriewe in die streek uitgeskakel. Suid-Afrika het die gebied daarna geadministreer, met langdurige politieke gevolge vir Suidwes-Afrika en die streek.
Min rekords oor Middelburgers se deelname aan die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika kon opgespoor word. Die enigste aangetekende slagoffer is burger (trooper) Johannes Jacob Joubert van die Middelburg-kommando.
Hy het as berede kommandolid in die Suid-Afrikaanse magte gedien. Die kommando het deel gevorm van die 2de Berede Brigade, wat deur generaals Louis Botha en Jan Smuts vir die veldtog saamgestel is. Joubert het op 3 Julie 1915 tydens die laaste fase van die veldtog gesneuwel en is in die Tsumeb-begraafplaas in die huidige Namibië begrawe. Hy was 21 jaar oud en het op die plaas Rooikraal 14 buite Middelburg geboer.
Vroeg in Julie 1915 het Suid-Afrikaanse magte onder generaal Louis Botha ’n vinnige knyptangbeweging uitgevoer om die Duitse magte in die noorde van Duits-Suidwes-Afrika vas te keer. ’n Snelbewegende kolonne onder brigadier-generaal Martinus Myburgh het opgeruk om Otavi en Tsumeb in te neem.
Hoewel daar in die omgewing oor ’n kort wapenstilstand onderhandel is, het gevegte langs die opmarsroete voortgeduur. Joubert het tydens die finale operasies om Tsumeb in te neem, by Gaub naby Otavi gesneuwel.
Op 9 Julie 1915 het die Duitse magte formeel aan die Suid-Afrikaners oorgegee toe die ooreenkoms van Khorab onderteken is. Daarmee het die Geallieerdes hul eerste groot oorwinning op land tydens die Eerste Wêreldoorlog behaal.
Die Oos-Afrika-veldtog
Die oorlog in Oos-Afrika was langer en moeiliker. Duitse magte onder bevel van Paul von Lettow-Vorbeck het ’n mobiele guerrillaveldtog in Duits-Oos-Afrika en later in omliggende gebiede gevoer. Hulle het veel groter Geallieerde magte besig gehou en gereelde, beslissende nederlae vermy.
Jan Smuts is in 1916 as bevelvoerder van die Geallieerde magte in Oos-Afrika aangestel. Suid-Afrikaanse eenhede het saam met Britse, Indiese, Belgiese, Portugese en plaaslike magte opgetree.
Die uitdagende terrein, lang toevoerlyne en tropiese siektes, veral malaria en disenterie, het enorme menslike en logistieke verliese veroorsaak. Luitenant-generaal sir Jacob (Jaap) van Deventer (1874-1922), ’n Boereoorlog-generaal, het ’n belangrike bevelsrol in sowel die Duits-Suidwes- as die Oos-Afrika-veldtogte vervul. Hy het Smuts in laasgenoemde opgevolg.
Von Lettow-Vorbeck se mag het eers ná die Europese wapenstilstand in November 1918 die stryd gestaak.
Siekte was ’n groter bedreiging as vyandelike vuur. Malaria en disenterie het die meeste gevalle van ongeskiktheid veroorsaak, terwyl swartwaterkoors (nierversaking), ’n ernstige komplikasie wat dikwels met herhaalde malaria-aanvalle verband hou, ook talle lewens geëis het.
Longontsteking, pokke, serebrospinale meningitis en, teen die einde van 1918, griep het die sterftesyfer verder verhoog. Lang marse deur warm, nat gebiede, besmette drinkwater, onvoldoende voeding, ’n tekort aan mediese personeel en die moeilikheid om siekes oor swak paaie te ontruim, het die situasie vererger.
In sommige eenhede het die effektiewe sterkte binne enkele maande dramaties afgeneem, hoofsaaklik weens siekte eerder as gevegsverliese. Afrika-soldate, draers en arbeiders is besonder swaar getref, maar hul verliese is dikwels onvolledig aangeteken.
Nege Middelburgers sterf in die Oos-Afrika-veldtog
Die eerste Middelburgse sterfgeval in die veldtog was weerman Samuel Beeston van die 1st South African Rifles, wat op 24 Julie 1916 tydens die geveg by Malangali gesneuwel het.
Beeston is in Engeland gebore. Hy was 49 jaar oud en ongetroud.
In die middel van 1916 het die Nyasaland-Rhodesië-veldmag onder Britse leiding, met brigadier-generaal Edward Northey as bevelvoerder, vanuit die suidweste Duits-Oos-Afrika binnegedring.
By Malangali, in die hedendaagse Tanzanië, het ’n Duitse Schutztruppe-mag onder Hauptmann Braunschweig ’n sterk verdedigingsposisie by die Pakene-rotse ingerig. Op 24 Julie het ’n Geallieerde kolonne onder Hawthorn probeer om die Duitse posisie te omvleuel.
Die 1st S.A. Rifles en die 1st King’s African Rifles het opdrag gekry om die versterkte rotse aan te val, maar Duitse artillerievuur het die opmars gestuit. Geweerflitse het die droë gras aan die brand gesteek, en rook en veldbrande het die geveg verder bemoeilik en gewondes in gevaar gestel.
Teen die aand het die Duitse mag onder dekking van die bos noordwaarts onttrek en sy swaar 10,5 cm-houwitser agtergelaat nadat die sluitstuk verwyder is. Beeston was een van vier Suid-Afrikaanse en Britse soldate wat tydens die geveg noodlottig gewond is. Hy is later in die Iringa Statebond-oorlogsbegraafplaas in Tanzanië herbegrawe.
Op 1 Oktober 1916 het weerman Charles Frederic Rorke van die Suid-Afrikaanse Divisie-seinkompanie in Morogoro aan disenterie gesterf.
Die kompanie het die veldmag se kommunikasie oor groot afstande en deur moeilike oerwoudterrein onderhou deur van telegrafie, telefone, swaar kabellyne en vroeë draadlose toerusting gebruik te maak.
Rorke, wat in Pietermaritzburg gebore is, was reeds ’n gevestigde regsman voordat hy aangesluit het. Hy is in 1895 tot Gray’s Inn in Londen toegelaat, in 1899 tot die balie toegelaat en het later as advokaat van die Hooggeregshof van Transvaal en daarna van die Unie van Suid-Afrika gepraktiseer.
Voor sy mobilisasie het hy in Middelburg gepraktiseer en op Roodepoort 152 buite die dorp geboer. Hy was 50 jaar oud en is deur sy eggenote en een kind oorleef.
Sy dood het plaasgevind in ’n tyd toe uitgeputte toevoerlyne, malaria, disenterie en algemene uitputting die veldtog ernstig vertraag het. Siekte was verantwoordelik vir ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse verliese.
Sersant William John McHaffie, ’n drywer in die motortransportseksie van die Suid-Afrikaanse Dienskorps, het op 26 Mei 1917 aan serebrale malaria gesterf. Hy was 40 jaar oud en getroud.
Voor die oorlog het hy as ingenieur in Middelburg gewerk, waarskynlik op die spoorweë. Die motortransportseksie se noodsaaklike, maar uitmergelende taak was om voorrade en personeel oor swak paaie te vervoer. McHaffie is in Dar es Salaam begrawe.
Luitenant Frederick Caesar Hawkins van die South African Horse het hom by die 3de Bataljon van die 2de Regiment, King’s African Rifles, aangesluit. Hy het op 15 November 1917 in Duits-Oos-Afrika gesneuwel en is in Dar es Salaam begrawe.
In dié stadium het die 3/2nd K.A.R., wat hoofsaaklik uit askari-soldate uit Nyasaland bestaan het, onder brigadier-generaal O’Grady se No. 3 Column van die Lindi-mag opgetree.
Ná die bloedige Slag van Mahiwa, wat van 15 tot 19 Oktober 1917 gewoed het, het generaal-majoor Jacob van Deventer se magte probeer om Paul von Lettow-Vorbeck se terugtrekkende Schutztruppe af te sny.
Teen middel November was die Duitse magte van hul noordelike voorraadbasisse afgesny en is hulle suidwaarts na die Ruvumarivier gedwing. Op 22 November, ’n week ná Hawkins se dood, het hulle die rivier na Portugees-Mosambiek oorgesteek. Die Duitse magte het so ver suid as Namacura in Mosambiek, oorkant Quelimane, gevorder.
Hawkins was 30 jaar oud. Hy het aan Hilton Kollege in Pietermaritzburg skoolgegaan en saam met sy pa en twee broers op die plaas Ede buite Middelburg geboer.
Hy was een van vier kinders wat almal tydens die Eerste Wêreldoorlog gemobiliseer is. Sy broer Humphrey Caesar Hawkins MC het later aan die Wesfront gesneuwel, terwyl sy oudste broer, kaptein Villiers Geoffrey Hawkins van die Royal Field Artillery, en sy suster Dorothy Mary Hawkins van die Women’s Army Auxiliary Corps die oorlog oorleef het.

Weerman Charles Keogh van die depot van die 2de Infanteriebrigade het op 17 November 1916 as een van agt ongevalle gesterf. Hy was oorspronklik van Heilbron in die Vrystaat en het op 30 Augustus 1916 in Dar es Salaam aangekom. Sowat tien weke later is hy naby Lanzi in die huidige Tanzanië oorlede.
Hy was 23 jaar oud en is in die Impangaweg-begraafplaas in Dar es Salaam begrawe.
Luitenant Hugh Lloyd van die 1ste Bataljon, 3de Regiment, King’s Own African Rifles, het aanvanklik by die Motor Machine Gun Corps aangesluit. Hy het voor die oorlog as bankklerk gewerk.
Hy het op 16 Maart 1916 in Oos-Afrika aangekom en is op 27 April 1917 as offisier in die King’s African Rifles aangestel. Hy het op 19 Julie 1917 weens siekte gesterf en is in die Dar es Salaam-oorlogsbegraafplaas begrawe.

Weerman John McDonald van die 1st Special Engineers Section van die Suid-Afrikaanse Seinkompanie het op 29 Maart 1918 in Zomba, Nyasaland, die huidige Malawi, aan longontsteking gesterf.
Suid-Afrikaanse seiners het as deel van die Suid-Afrikaanse Genie en die South African Overseas Expeditionary Force noodsaaklike draadlose, telegraaf- en boodskapperkommunikasie verskaf.
Zomba, destyds die hoofstad van die Britse protektoraat Nyasaland, was ’n belangrike militêre basis en hospitaalsentrum vir die Geallieerde magte. Soos elders tydens die veldtog, het baie soldate wat daar gestasioneer was of daardeur beweeg het, eerder aan malaria, disenterie, longontsteking en later griep beswyk as aan vyandelike vuur.
Drywer Daniël (Danie) du Toit van die Suid-Afrikaanse Dienskorps het op 17 Desember 1918 aan longontsteking by Fort Johnson in Mangochi, Malawi, gesterf. Hy is daar begrawe.
Hy was met Maria Wilhelmina, gebore Kirsten, getroud en het in Langstraat (SADC-straat) in Middelburg gewoon. Hy was verwant aan landdros Gert du Toit, Natie du Toit en Zulu du Toit van Alzu.
Sy dood, meer as ’n maand ná die wapenstilstand in Europa, beklemtoon hoe siekte, waaronder die Groot Griep, en die nasleep van die veldtog nog lank ná die formele einde van die oorlog lewens geëis het.
Bombardier Johannes Arnoldus Swanepoel, wie se van op die monument as Swanapoel gespel word, van die 5de Bergbattery, is op 24 Julie 1916 tydens die geveg by Malangali gewond.
Die battery is in 1915 by Karibib saamgestel uit vrywilligers nadat die veldtog in Duits-Suidwes-Afrika beëindig is. Dit het aanvanklik as die 1ste Bergbattery bekend gestaan, waarvan Johannes ’n lid was. Dit is later hernoem tot die 5de Bergbattery van die South African Mounted Rifles en het deel gevorm van die Unie se Central African Imperial Service Contingent.
Die eenheid was toegerus met ses buitgemaakte Duitse 75 mm-snelvuurberghouwitsers wat deur muile getrek is. Tydens die hewige geveg by Malangali, in die huidige Tanzanië, het die battery Duitse magte, waaronder matrose van die gekelderde kruiser Königsberg, op ’n afstand van ongeveer 270 m aangeval.
Swanepoel se moeder het op Rietfontein buite Middelburg gewoon. Hy het malaria in Oos-Afrika opgedoen en is herhaaldelik daarvoor in No. 4 Algemene Hospitaal behandel.
Op 24 Desember 1918 is hy weer in dié hospitaal vir malaria behandel. Hy het op 15 Januarie 1919 in Middelburg gesterf terwyl hy met verlof was.
Die Suid-Afrikaanse brigade aan die Wesfront

Benewens die veldtogte in Afrika het Suid-Afrikaners ook in Europa en die Midde-Ooste diens gedoen.
Die 1ste Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade, onder bevel van brigadier-generaal H. T. Lukin, het uit vier infanteriebataljons bestaan en is by die Britse 9de (Skotse) Divisie ingedeel. Ná opleiding in Brittanje en diens in Egipte het die brigade in April 1916 in Frankryk aangekom. Die soldate het daarna aan die loopgraafoorlog aan die Wesfront deelgeneem, aanvanklik aan die Somme en later in Vlaandere.

Die brigade se bekendste en tragiesste geveg was dié by Delvillebos tydens die Slag van die Somme. Op 15 Julie 1916 het die Suid-Afrikaners die digbegroeide bos oos van Longueval binnegegaan met die opdrag om dit te verower en ten alle koste te behou.
Die posisie het soos ’n uitstaande punt in die Duitse linie gelê en kon van drie kante af deur artillerie en masjiengewere bestook word. Duitse teenaanvalle, voortdurende bombardemente, reën, modder, versplinterde bome en gebrekkige toevoer het die verdedigers byna afgesny.
Toe die brigade op 20 Julie afgelos is, was die bos grootliks verwoes en was die eenheid as gevegsmag tydelik uitgewis.
Die verliesgetalle verskil na gelang van die tydperk en die wyse waarop vermistes, gewondes en later bevestigde sterftes getel is. ’n Betroubare vroeë telling meld dat 35 offisiere en 574 manskappe teen 20 Julie dood was.
Vir die brigade as geheel word dikwels aangeteken dat ongeveer 3 153 man Delvillebos binnegegaan het, maar dat slegs sowat 720 kort daarna vir diens kon aanmeld. Die res was dood, gewond of vermis. Latere samestellings dui op ongeveer 763 gesneuweldes en 1 709 gewondes.
Ondanks die verskille in die syfers is dit duidelik dat Delvillebos die brigade se swaarste enkele geveg aan die Wesfront was.
Twee Middelburgers het in Delvillebos gesterf.

Weerman Geoffrey Lawrence Scott van die 4de Suid-Afrikaanse Infanterieregiment het op 18 Julie 1916 gesneuwel. Hy was ’n 24-jarige boer uit die Middelburg-omgewing wat op 23 Augustus 1915 gemobiliseer is. Sy vader was ’n predikant in Engeland.
Die 4de Regiment, wat grootliks uit die Transvaal Scottish Regiment gevorm is, het die Murray of Atholl-tartan gedra. Saam met die res van die Suid-Afrikaanse Brigade moes die regiment Delvillebos inneem en ‘ten alle koste’ behou om die flank van die Britse magte tydens die Somme-offensief te beveilig.
Ses dae van artilleriebombardemente, skerpskuttersvuur en teenaanvalle het die regiment en die brigade verwoes. Die 4de Regiment het buitengewoon swaar verliese gely voordat die oorlewendes op 20 Julie afgelos is.

Tweede luitenant Francis Henry Somerset van die 3de Suid-Afrikaanse Infanterieregiment het op 20 Julie 1916, die dag waarop die oorlewendes van die brigade uiteindelik afgelos is, gesneuwel. Hy was een van 359 Geallieerde soldate wat dié dag gesterf het.
Somerset was 32 jaar oud en het voor die oorlog vir die Departement van Bosbou gewerk. Hy het reeds tydens die Anglo-Boereoorlog in die French’s Scouts, waarskynlik ’n verwysing na die kavalleriebrigade, gedien.
Regimentsdagboeke teken aan dat hy op 16 Julie swaar vyandelike vuur geïgnoreer het om noodsaaklike voorrade na die voorste troepe en hoofkwartier te vervoer.
Volgens korporaal Lilford, een van die oorlewendes van No. 16 Peloton, het Somerset tydens die bombardement daarop aangedring dat sy manne skeer en hulself netjies maak. Hy het droogweg opgemerk dat ’n lyk reeds sleg genoeg lyk sonder dat ’n man hom voor die tyd verwaarloos.
Tydens die finale geveg in die suidwestelike hoek van die bos het Somerset saam met luitenant-kolonel Edward Thackeray en die oorblywende manne geveg. Toe die Suid-Afrikaanse posisie deur vars Duitse troepe oorrompel en daarna selfs deur eie artillerievuur getref is, het Somerset probeer om ’n uitweg te vind om sy manne uit te lei. Hy is geskiet en was onmiddellik dood.


Die brigade se diens het nie by die Somme geëindig nie. In 1917 het Suid-Afrikaanse troepe in Vlaandere aan die Derde Slag van Ieper deelgeneem.
In September, tydens die gevegte by die Meninweg, is hulle deur Duitse masjiengeweer- en artillerievuur bestook en het hulle weer swaar verliese gely. Meer as 1 200 salgoffers is binne vier dae in die brigade aangeteken.
Later is Suid-Afrikaanse eenhede ook in die modderige linies naby Langemark en Poelkapelle ontplooi. Hierdie gevegte het die patroon van Delvillebos herhaal: beperkte terreinwins is teen ’n buitengewone menslike prys behaal.
Weerman Reuben Rose van die 1ste Suid-Afrikaanse Infanterieregiment het op 24 Maart 1918 tydens die Tweede Slag van die Somme aan die Wesfront gesneuwel.
Hy was 36 jaar oud en afkomstig uit ’n Russies-Joodse gesin. Hy was ongetroud en het voor die oorlog as skoenmaker in Markstraat (OR Tambo-straat) in Middelburg gewerk. Dit blyk dat sy liggaam nooit gevind is nie en dat hy geen bekende graf het nie.
Drie dae tevore, op 21 Maart, het die Duitse leër Operasie Michael, die groot Lenteoffensief, van stapel gestuur en die Britse Vyfde Leër tot ’n haastige terugtog gedwing.
Die 1ste Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade, bestaande uit die 1ste, 2de, 3de en 4de regimente, moes onder hewige bombardement terugveg om te verhoed dat ’n gevaarlike gaping in die Geallieerde linie ontstaan.
Teen die oggend van 24 Maart was die brigade onder brigadier-generaal F. S. Dawson tot ongeveer 500 gevegsgeskikte manne gereduseer. Hulle het opdrag gekry om die rif aan die noordelike punt van Marrièresbos, naby Bouchavesnes-Bergen, ten alle koste te behou sodat die Britse Derde Leër ’n nuwe verdedigingslinie kon vestig.
Sonder voldoende artillerie- of flanksteun het die Suid-Afrikaners hul posisie langer as sewe uur teen ’n oorweldigende Duitse mag verdedig.
Namate hul ammunisie uitgeput geraak het, het gewonde soldate aangehou vuur, terwyl ander die oorblywende patrone van gesneuweldes versamel het. Teen ongeveer 16:15, ná ’n nuwe Duitse aanval, was hul ammunisie feitlik op.
Slegs sowat 100 oorlewendes, die meeste van hulle gewond, is gevange geneem. Harry Laver van Middelburg en Dawson was onder hulle.
Die brigade is as gevegsmag feitlik vernietig, maar sy weerstand het die Duitse opmars vertraag. Die verdediging van Marrièresbos word daarom, saam met Delvillebos in 1916, as een van die merkwaardigste Suid-Afrikaanse krygsverrigtinge van die Eerste Wêreldoorlog onthou.
Luitenant Humphrey Caesar “Huff” Hawkins MC, wat by B-battery, 121ste Brigade, Royal Field Artillery, ingedeel was, het op 23 April 1918 aan die Wesfront in Vlaandere gesneuwel.
Hy was 26 jaar oud en het voor die oorlog saam met sy broers op die plaas Ede 422 buite Middelburg geboer. Hy het sy skoolopleiding aan Hilton Kollege in Pietermaritzburg voltooi. Sy broer, luitenant Frederick Caesar Hawkins, het reeds op 15 November 1917 tydens die Oos-Afrika-veldtog gesneuwel.
Hawkins se battery was op 23 April 1918 die hele dag in hewige gevegte gewikkel. Dit het plaasgevind tydens die Slag van die Lys, ook bekend as die Vierde Slag van Ieper, wat deel van die Duitse Lenteoffensief in Vlaandere gevorm het.
Nadat die Duitse leër in Maart ’n groot deurbraak aan die Somme behaal het, het dit op 9 April ’n nuwe offensief in Vlaandere begin. Die doel was om belangrike spoorwegknope, soos Hazebrouck, te verower en die Britse magte in die rigting van die Kanaalhawens terug te dwing.
Teen die einde van April het Britse en Geallieerde artillerie-eenhede dag en nag verdedigingsvuur gelewer om die Duitse opmars te stuit.
Hawkins is in die Lijssenthoek Militêre Begraafplaas naby Ieper in Wes-Vlaandere, België, begrawe. Hy word ook daar herdenk. Lijssenthoek was tydens die oorlog een van die belangrikste sentrums vir die ontruiming en mediese behandeling van ongevalle in die Ieperboog.

Hy het die Military Cross op 9 Januarie 1918, vier maande voor sy dood, vir dapperheid ontvang. Die motivering vir die toekenning het soos volg gelui:
“For conspicuous gallantry and devotion to duty as Forward Observing Officer for his brigade. He reorganised a party that had been broken up by shell fire and led it forward through a heavy barrage with the greatest gallantry, afterwards accompanying the infantry during the advance and sending back valuable information from the firing line until the end of the attack. On another occasion he went out under an intense hostile bombardment to assist the dress and remove the wounded of a party of infantry, twelve of whom had been knocked out by one shell. But for this gallant action, carried out at great personal risk, the wounded would have been left on the ground.”
Die toekenning van die MC aan tweede luitenant Humphrey Caesar Hawkins is op 26 September 1917 in die London Gazette Supplement gepubliseer (uitgawe 30308, bladsy 9976).


’n Interessante besonderheid is dat die twee gesneuwelde Hawkins-broers se oudste broer, Villiers Godfrey Caesar Hawkins (1890-1955), ook oorspronklik van Middelburg, die Hawkins-baronetskap in 1939 geërf het. Dit het gebeur nadat die vorige baronet, sir John Scott Caesar Hawkins (1875-1939), kinderloos gesterf het.
Villiers was tydens die Eerste Wêreldoorlog ook ’n kaptein in die Royal Field Artillery. Die baronetskap in die Baronetage of Great Britain is op 25 Julie 1778 vir Caesar Hawkins, Serjeant-Surgeon van George II en George III, geskep.
Teen 1955 was sir Villiers Godfrey Caesar Hawkins, die sesde baronet Hawkins van Kelston, die kampongbestuurder in Carletonville.

Tweede luitenant Eric Charles Male van die 1ste Suid-Afrikaanse Infanterieregiment het die geveg om Delvillebos in 1916 oorleef, maar is op Saterdag 20 Julie 1918 tydens die Duitse Lenteoffensief aan die Wesfront dood.
Hy was 27 jaar oud, ongetroud en het voor die oorlog as verkoopsman in Middelburg gewerk.
As deel van die Britse 9de (Skotse) Divisie was die Suid-Afrikaanse Brigade gedurende Julie 1918 by hewige gevegte in Noord-Frankryk betrokke. Op 19 Julie het Suid-Afrikaanse troepe daarin geslaag om die feitlik heeltemal verwoeste dorp Meteren van die Duitse magte te herower.
Die opruiming van die slagveld het die volgende dag voortgeduur. Draagbaarspanne het deur modder en puin gewerk om die Suid-Afrikaanse en Britse gesneuweldes en gewondes te versamel.
Die meerdaagse operasie het 130 ongevalle tot gevolg gehad: 29 gesneuweldes en 101 gewondes. Male was een van dié wat nie uit die geveg teruggekeer het nie.
Weerman Nicholas Willem de Klerk, ’n lid van die 1ste Suid-Afrikaanse Infanterieregiment, het op 19 Oktober 1918, op die hoogtepunt van die Groot Griep, in Potchefstroom aan longontsteking gesterf.
Weerman Jacob Jacobsohn, wie se van op die monument as Jacobson gespel word, van die 1ste Suid-Afrikaanse Infanterieregiment, is op 15 Julie 1917 as deel van D-kompanie na Frankryk ontplooi.
Hy is tydens die Lenteoffensief aan die Somme gewond en het op 22 Maart 1918 aan sy wonde beswyk. Hy is in die Roye New British Cemetery in Frankryk begrawe. Sy vader het destyds in die Ermelo-distrik gewoon.
Suid-Afrikaanse eenhede het daarna ook aan ander gevegte aan die Wesfront deelgeneem.
Swart Suid-Afrikaners het hoofsaaklik in niegevegsrolle diens gedoen, onder meer in die South African Native Labour Corps.
Die verlies van die troepeskip SS Mendi in Februarie 1917, toe 607 lede van die korps se 5de Bataljon en nege offisiere verdrink het, het een van die belangrikste Suid-Afrikaanse herdenkingsgebeure van die oorlog geword. Dit is onbekend of enige Middelburgers in die Native Labour Corps gedien het.
Meer as nege miljoen soldate het tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf: 5,5 miljoen aan die Geallieerde kant en 3,7 miljoen aan die kant van die Sentrale Moondhede.
Dit was ’n sinnelose slagting waarin masjiengewere, gifgas, vlamwerpers, massiewe artilleriebombardemente en die eerste lugaanvalle miljoene lewens geëis het. Jong lewens is vir leiers se magsdrome opgeoffer, net om te sien hoe die geskiedenis hom in 1939 herhaal!

Wapenstilstand en internasionale betekenis
Om 11:00 op 11 November 1918 het die wapenstilstand tussen Duitsland en die Geallieerdes in werking getree.
’n Stiltepouse ter nagedagtenis aan oorlogslagoffers het reeds in Mei 1918 in Kaapstad ontstaan. Sir Percy Fitzpatrick, ’n Suid-Afrikaanse politikus, het voorgestel dat die gebruik oor die Britse Ryk uitgebrei word. Koning George V het daarna in November 1919 ’n jaarlikse stilte van twee minute ingestel.
Die Unie se militêre deelname het sy internasionale aansien versterk. Tydens die Rykskonferensie van 1917 is die dominiums toenemend as vennote van Brittanje behandel.
Botha en Smuts het Suid-Afrika in 1919 by die Vredeskonferensie van Parys verteenwoordig en die Verdrag van Versailles onderteken. Smuts het ook ’n belangrike rol in die stigting van die Volkebond gespeel.
Hierdie ontwikkelinge het die weg gebaan vir die latere grondwetlike erkenning van groter dominiale selfstandigheid.
Middelburg en die laaste taptoe
Teen die tyd dat die wapens in November 1918 stil geword het, het die oorlog reeds sy tol in Middelburg geëis. Die 19 Middelburgers wat nie teruggekeer het nie, verbind die dorp aan ’n konflik wat van die woestyne van Suidwes-Afrika en die tropiese gebiede van Oos-Afrika tot die loopgrawe van Frankryk gestrek het.
Hul verlies herinner ook aan die teenstrydige aard van Suid-Afrika se oorlogservaring. Die oorlog het die Unie intern verdeel, maar terselfdertyd sy militêre vermoë en internasionale status versterk.
Die twee minute se stilte op 11 November bied daarom ’n gepaste raamwerk vir herdenking. Dit gedenk nie net die einde van die gevegte nie, maar ook die mense vir wie vrede te laat gekom het.
Vir hulle was die laaste taptoe reeds geblaas.

