News

Afriforum as “helde” beskou – man wat wegjaag vandag gevonnis

Vandag is D-dag vir Khumbulani Malinga wat op 4 Oktober skuldig bevind is aan strafbare manslag, na die dood van me. Liezel Visagie op 23 Maart 2019.

Die saak sou ’n stille dood gesterf het, as dit nie vir Afriforum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van advokaat Gerrie “Bulhond” Nel was nie.

Me. Visagie is dood nadat sy deur Malinga, wat vir verkeerspersoneel weggejaag het, in die Lilian Ngoyi- en Cowen Ntulistraat kruising, getref is. Sy kon haar tienerdogter net betyds uit die pad stamp voordat sy getref is.

Die saak is kort na Malinga se eerste hofverskyning van die rol geskrap weens ’n uitstaande bloed/alkoholverslag.

Me. Visagie se ma, me. Marie Hamman, het haar tot Afriforum se privaatvervolginseenheid gewend, waarna Malinga weer gedagvaar is.

Liezel Visagie.

Hy het op 4 Oktober skuldig gepleit op ’n klag van strafbare manslag deur te erken dat hy oor ’n rooi verkeerslig, en hoër as die toegelate spoedperk gery het. Hy het erken dat sy nalatigheid tot me. Visagie se dood gelei het, maar dat hy haar nie gesien het in die kruising saam met haar dogter nie.

Me. Hamman sal vandag, tydens vonnisoplegging, ’n kans kry om ter verswaring te getuig. Sy het die vervolgingseenheid se span geloof as “helde”.

• Dit is egter nie die enigste plaaslike saak wat te danke aan Afriforum se regspan, op die plaaslike hofrolle geplaas is na druk nie.

Die Afriforum privaatvervolgingseenheid het ook ingegryp by die Oktober 2018 dood van me. Alet Herbst en haar huishulp Linda Lukele, in ’n gru-botsing op die N11.

Alet Herbst en haar huishulp Linda Lukele.

Die polisie het versuim om verklarings by ’n ooggetuie te neem.

Inligting dat die vrou wat die ongeluk veroorsaak het, voor die botsing by ’n plaaslike kroeg gesit en kuier het, en haar kroegrekening met haar debietkaart betaal het, is na bewering nooit opgevolg nie.

Naas die strokie van betalingsbewys, is ’n vrou ook na bewering op CCTV kameras in die kroeg opgeneem voor die ongeluk. Die beskuldigde in die saak verskyn in Desember in die hof, weens die Afriforum span se ingryping.

• Die April 2018 skietdood van mnr. Gerhard Coetzer. Mnr. Coetzer is in die teenwoordigheid van sy vrou en seun doodgeskiet tydens ’n partytjie by ’n huis in Walter Sisulustraat.

Die polisie het tot vandag toe nie ’n verdagte geïdentifiseer nie, hoewel talle getuies in die ondersoek beweer het dat een van die partytjiegangers met ’n wapen gespeel het, voordat twee skote afgevuur is, waarvan een mnr. Coetzer in die kop getref het.

Gerhard Coetzer.

Die saak is nog op hersiening, nadat die dossier na die ondersoekbeampte terug gestuur is, vir verdere ondesoek.

• Die privaatvervolginseenheid hersien ook die moordsaak van me. Wilma Viljoen, wat in 2011 vasgebind aan haar nek aan ’n boom by Samekoms gevind is.

Die saak sloer al tien jaar, en die beskuldigde, Peter Lebitsa Mogadima, het intussen al verskeie maal versuim om sy hofverskynings by te woon, op die vlug geslaan, en by een geleentheid selfs met ’n ander verhoorafwagtende se borgstrokie ontsnap.

Hy staan ook tereg op ’n ander klag van moord in Limpopo.

Hoewel die saak wel op die rol is, word dit keer op keer uitgestel, en me. Viljoen se familie vrees dat die saak summier uitgegooi sal word weens die gerompslomp.

• Die span kyk ook tans na die saak rakende die ongeluk waarin die vyfjarige Amé Janse van Rensburg dood is op 26 September vanjaar, op die ou-Witbankpad.

Soos Malinga, is die beskuldigde in die saak ook nog nie formeel van strafbare manslag aangekla nie, hoewel hy op die toneel erken het hy was dronk.

Die beskuldigde het ook na die botsing, soos Malinga, van die toneel af probeer vlug.

Amé Janse van Rensburg.

Afriforum wag vir terugvoer, wat reeds die vervolgingsgesag genader het vir besonderhede rakende die vordering van die ondersoek.

•Sluit vandag aan by AfriForum, SMS jou naam na 45340 (R1).

Back to top button