Hoërskool seun met mes aangehou
’n Jong Hoërskool Middelburg leerder is met ’n mes aangehou en van sy selfoon beroof.
Lolla van der Sandt het aan www.mobserver.co.za vertel dat haar 16-jarige broer, Gerhardus Reyneke, Maandagmiddag na skool buite Hoërskool Middelburg beroof is.
Gerhardus was op pad huistoe na skool, toe hy van agter af terug geruk word. Die rower wou sy skooltas steel, omdat dit baie lyk na ’n skootrekenaarsak.
Die dief het toe ’n mes teen sy bors gedruk, terwyl hy met sy hand deur die sak gegaan en sy selfoon gegryp het.
Terwyl die rower haar broer met die mes aangehou het, het ’n man haar broer stip in die oë gekyk, sonder om hom te hulp te snel. Gerhardus het na die man geroep vir hulp, maar die man het in sy kar geklim en gery.
“Hy het nie eers gedink om te kyk of my broer okei was nie.”
Die selfoon wat gesteel is, is ’n kersgeskenk van haar en haar man af.
“Hy is geweldig getraumatiseer, maar sy hart is ook seer oor sy selfoon. Dit is sy eerste selfoon en hy sal nou sonder een moet klaar kom.”
