Gesin begin nou al Kersgeskenke vir arm kinders bymekaar maak
Sy sal nooit vergeet hoe kinders met skulpies in strate speel en gehuil het van blydskap oor ’n pakkie lekkergoed nie.
Middelburger Soretha Oosthuizen se man, Willem, werk in Alexanderbaai (Noord Kaap) en sy gaan sedert 2020 een keer per jaar oor Kerstyd vir twee of drie weke by hom kuier in Port Nolloth.
Net soos baie ander dorpe, is daar ook ’n geweldige arm gemeenskap en sy en haar dogter, Nikita de Bruyn, het besluit om Kersfees vir vir die kinders in die gemeenskap iets te gee.
In 2021 het hulle sommer vroeg in die jaar al begin lekkers bymekaar maak om pakkies vir die kinders op te maak.
“Ons moes ’n waentjie afsleep met al die pakkies wat ons saamgevat het, maar dit was deur en deur die moeite werd! Die kinders het gehuil van blydskap, so asof jy vir hulle ’n geskenk wat duisende rande werd is, gegee het. Hulle het só mooi dankie gesê.”
Net daar het ma en dogter besluit, 2022 gaan ’n nóg beter Kersfees vir die kinders wees!
Haar seun, DJ, is net so opgewonde om deel van die projek te wees en het sommer klaar ’n Kersvaderpak gaan koop. Hy sê dit sal vir hom ’n voorreg wees om elke pakkie uit te deel.

Me. Oosthuizen sê die kinders se ouderdomme wissel vanaf babas tot tieners en dat die Middelburg gemeenskap ook bydraes kan lewer.
“Of dit nou ’n teddiebeertjie, inkleurboek, waslappie, sepie of skoolbenodigdhede is, of kindermusiek en -storie DVD’s is wat jou kind nie meer kyk nie, ons sal dit in pakkies kan gebruik.”
Skenkings hoef nie splinternuut te wees nie. Die twee vroue sal dit sommer self was en netjies kry vir dié kinders wat nie die voorreg het om speel- of spesiale badgoedjies of behoorlike skoolbenodigdhede het nie.
“Jy kan jou skenking self toedraai. Skryf net op die pakkie of dit vir ’n seun of ’n dogter en watter ouderdomsgroep dit is.”
Me. Oosthuizen sê sy wil nie dat mense vir haar kontant gee nie. “Gaan koop ’n rol geskenkpapier of iets wat ’n kind gebruik of bring net die swartsak vol speelgoed wat jy uitgegooi het toe boetie of sussie Kersfees nuwe speelgoed gekry het.”
Die twee vroue daag die gemeenskap uit om in te koop in die projek. “As jy elke maand net iets klein wegsit of vir ons bring, dink net hoe hoog kan ons die waentjie vir Kersfees 2022 pak!”
•Me. Oosthuizen het aangedui dat sy ’n kruidenierswinkel in die genoemde dorp, waar hulle die geskenkies wil uitdeel, gaan vra of hulle kort voor Kersfees die gemeenskap kan uitnooi om geskenke vir hul kinders te kom haal.
•Sy het aangedui dat sy op ’n gereelde basis vir www.mobserver.co.za op hoogte sal hou van hoe hul geskenkprojek vorder.
•Mense wat betrokke wil raak, kan haar bel by 072 272 5337.
