News

Flaterbus die nar is nou Puma die stouterd

Puma die stouterd wat nie wil lees nie, dans dat die stof so staan Saterdagoggend by die veldfees.

Dit was dalk in die voorsienigheid aangeteken dat Flaterbus eendag Puma sou word.

Flaterbus was in 1970 die nar wat Laerskool Panorama se sirkus op sy kop gekeer het. Saam met sy mede-nar, Hoepla, het hy die gehoor met hul mannewales laat skater.

Op ’n stadium het Flaterbus een van die akteurs met ’n sweep van die verhoog afgejaag. Wanneer die akrobate hul toertjies uitgevoer het, het hy en Hoepla hulle nageboots.

Dit was ook Flaterbus wat die toneelstuk begin het. Met ’n klok in die hand het hy by die saal ingestap en al luiende aangekondig: “Goeienaand, dames en here, goeienaand, welkom by Die Sirkus.”

Flaterbus in 1970 afgeneem met ’n mik-en-druk kameratjie. Foto: Verskaf/Arend van den Bergh.

Saterdagoggend, 56 jaar ná Flaterbus se streke in Witbank (eMalahleni), was hy weer daar – dié keer as Puma, die stoute kind wat nie kan lees nie omdat hy veel eerder heeldag wil visvang.

Hy het ’n rol gespeel in Middelburg Observer se leesprojek by Laerskool CR Swart se veldfees.

Die toneelstuk word al vir 21 jaar aangebied onder die vaandel van Ma en Puma.

Hester Steyn van die Witbank Nuus het in 1970 geskryf:

“Flaterbus en Hoepla, die twee harlekyne wat Vrydagaand tydens die skoolkonsert van Laerskool Panorama die aanwesiges laat skaterlag het, het ongetwyfeld toneelspel van professionele gehalte gelewer.”

Dit was ’n tyd van mik-en-druk-kameras en tikmasjiene – lank voordat daar video’s, TikTok, Facebook of selfone was. Al wat van Die Sirkus oorgebly het, is ’n vergeelde koerantberig wat my ma in ’n swart album geplak het.

Die Sirkus was ’n kinderspel wat deur Maxie de Villiers en De Wet Laubscher op die planke gebring is.

Die berig wat in die Witbank Nuus verskyn het.

“Die rol van Flaterbus is vertolk deur Tobie van den Bergh en Neels Visagie was Hoepla. Die konsert is aangebied in ’n stampvol saal van die Hoër Tegniese Skool. ’n Ware sirkusatmosfeer is geskep deur die aankondiging dat Die Sirkus sou plaasvind, met een van die narre wat luidkeels reklame gemaak het.”

Die ringmeester was Neels du Toit, wat sy waardigheid behou het ondanks die twee narre se gekskeerdery. Dié twee het die gehoor deurgaans laat lag met hul toertjies en deur die ringmeester agter sy rug te bespot.

Na soveel jare wonder ’n mens wat van Hoepla geword het; van die ringmeester, Rina Oosthuizen wat Karlientjie in Die Blou Angelier vertolk het; Johan van Zyl, die “baardmannetjie”; die heks, vertolk deur Nita Pienaar; en veral van die maatjie wat ek per ongeluk met die sweep in die oog geslaan het en wat so ontroosbaar gehuil het.

Dit is 56 jaar later. Leef hulle nog?

Niemand weet nie.

Al wat ons weet is dat Flaterbus nou Puma is.

Puma, die stout kind wat dans op die maat van “Dis lekker om Puma te wees…”.

KYK: Puma die stouterd wat nie wil lees nie, dans dat die stof so staan Saterdagoggend by die veldfees.

@middelburgobserver

KYK: Puma die stouterd wat nie wil lees nie, dans dat die stof so staan Saterdagoggend by die veldfees #middelburgobserver #middelburg #mpumalanga #groblersdal #puma #mobserver #caxtonnetworknews

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button