Sewe mense, waaronder drie kinders, in kar wat rol
Ooggetuies van ’n ongeluk gistergoggend op die Loskopdampad net voor die Slaghoek afdraai, kan steeds nie glo dat almal uit die wrak, wat op sy dak te lande gekom het, geklouter het nie.

“Die kinders het erg gehuil, maar daar was geen bloed nie en almal kon uit die kar uit klim,” vertel me. Yolandé Bezuidenhout.
Hulle was in De Voetpadkloof se rigting op pad, toe hulle die stofwolk ’n entjie voor hulle sien. Sy en haar man, Herman, het gesien dat die voertuig in Middelburg se rigting ry en die pad verlaat.
“Hy het te vinnig gery om langs die pad te stop, so hy het dalk aan die slaap geraak of iets anders moes gebeur het. Sy voertuig het afgegaan van die pad, waarop hy klaarblyklik geskrik en die stuurwiel geruk het. Daarna het die kar oor die pad gekom en drie keer gerol. Alles het voor ons oë gebeur!”
Terwyl die gebeure voor hulle afgespeel het, het mnr. Bezuidenhout dadelik remme aangeslaan en by die toneel gestop.
Me. Bezuidenhout onthou dat die eerste persoon wat uit die voertuig geklouter het, ’n ouer vrou was. Daarna ’n jonger man wat die voertuig bestuur het. Die twee kleuters, twee seuntjies van onderskeidelik vier en twee jaar oud, het geweldig gehuil en sy het die tweejarige opgetel om te troos.
Daar het nog ’n man uitgeklim en het mense, wat agter die Bezuidenhouts gestop het, die vrou wat links voor gesit het, gehelp het om tussen die voertuie deur te klouter na agter om uit te kom. Me, Bezuidenhout sê daar was ook ’n tienjarige dogtertjie in die groep van sewe wat uit die kar gekom het.
“Ek het haar so jammer gekry, want sy het so gebewe dat sy nie die water wat ons vir haar wou gee, kon drink nie.”
Sy het opgemerk dat almal wat in die voertuig was, netjies aangetrek was, asof hulle van die kerk af gekom het.
Die egpaar, asook ander mense wat op die toneel begin stop het, het dadelik begin rondbel vir hulp, aangesien hulle nie seker was of die mense dalk inwendige beserings kon gehad het nie.
“Niemand is uitgeslinger nie en dit was opmerklik dat daar niemand snye of ander ernstige beserings opgedoen het nie. Daar was géén bloed nie! Dit is God se genade dat niemand ernstig beseer is nie! As hulle op die sementblok, wat net ’n tree verder was, te lande gekom het, sou daar waarskynlik lewensverlies gewees het.”
Hulle het gesukkel om ’n ambulans in die hande te kry.
“Daar is eers ’n uur na die ongeluk, toe ons al byna in die dorp was, ’n ambulans by ons verby.”
Alhoewel daar baie motoriste en later ook insleepdienste op die toneel was, was hulle verstom met die optrede van ’n polisielid en daarna ook weermaglede.
“’n Polisievoertuig het na die ongeluk gestop, die polisieman het uitgeklim, op sy foon doenig geraak en dadelik weer gery. Die weermagvoertuig het verby gery, ’n U-draai gemaak en weer stadig verby gery. Hy het nie gestop nie.”
