News

‘Dis nou genoeg’ groep wil optog na munisipaliteit reël

Meer as 200 mense het gisteraand opgedaag vir die “Dis nou genoeg” vergadering wat by die Kees Taljaard Stadion gehou is.

Van ’n optog, tot ’n belastingsbetalersvereniging en ’n moontlike trustrekening waar mense hul dienstegelde kan inbetaal, is van die voorstelle wat gemaak is.
Die boodskap was egter duidelik: “dit is ons dorp en ons vat hom terug!” aldus mnr. Arthur Hill.

Mnr. Hill het die vergadering gelei en gesê dat hy nie gedink het dat ’n WhatsApp groepie, “Dis nou genoeg”, wat hy een dag in ’n restaurant oopgemaak het om sy irritasie met die staking en die gemors in ons dorp, te verwoord, so sou ontplof nie.

Mnr. Arthur Hill.

“Toe sien die Observer en prokureurs dit raak en almal sê: kom ons vat dit, kom ons doen iets daaraan!” het mnr. Hill gesê.

Al het die munisipale werkers gister beloof om weer te begin werk, is daar besluit om aan te gaan met die vergadering en het dit duidelik geword dat niemand meer hul beloftes vertrou nie.

Mnr. Hill het uitgebrei oor die interdik wat gekry en afgelewer is en ook gemeld dat die munisipaliteit nog nie daarop gereageer het nie.

“Ons het klaar besluit: tot hiertoe en nie verder nie. Ons het ’n impak gemaak, maar ons kan dit nie net hier los. Ons moet hulle wys, as hulle werk, goed. Maar ons weet ook hoe dit werk, hulle werk vir ’n rukkie, dan staak hulle weer oor die volgende ding. Ons het nog altyd terug gesit en aanvaar. Nou kan ons dit nie meer doen nie!”

“Ons as inwoners gee om, maar hulle gee nie om nie.”

Hy het voorgestel dat daar ’n optog gehou word vanaf die Kees Taljaard Stadion tot by die munisipaliteit waaraan die hele gemeenskap kan deelneem.

“Hulle moet ons kan sien in die dorp. Ons wil ons stem gehoor hê. Ons wil ’n impak maak in die dorp en ons wil verander. Of jy nou met ’n motorfiets, fiets of te voet wil deelneem. word net deel van ons aksie.”

Dit is vir hom hartseer dat Middelburg nie meer een van die top dorpe in Mpumalanga is nie en uitgebrei oor die totale verval van die dorp weens die staking.

Mense wat weer en weer moet teruggaan om in rye te staan, registrasies van eiendom wat nie kan deurgaan nie en mense wat dan duisende rande verloor, argitekte wie se besighede vou omdat dit nie afgeteken kan word nie.

“Mense moet mooi verstaan. Ons is nie teen die mense wat staak nie. Ja ons is nie gelukkig daaroor nie. Maar die munisipaliteit se interne politiek met hul stakers is egter nie veronderstel om ons te raak nie. Ons het niks daarmee uit te waai nie. Ons betaal vir ’n diens wat gelewer moet word.”

Mnr. Hill was ook omgekrap oor die kriminele aksies van die stakers, asook oor die polisie wat “niks daaraan gedoen het nie. Die staking was onwettig. Daar is skote geskiet, kinders getraumatiseer, niks gedoen nie! Ons moet die dorp terugvat, want ons is gatvol vir wat hier aangaan.”

Mnr. Hill het gesê dat hy glo ’n optog om te wys dat die gemeenskap dit nie meer sal duld nie, wel ’n verskil sal maak.

“Ons staan vanaand saam as Middelburg Gemeenskap, ons soek nou verandering.”

•Daar is geleentheid gebied vir mense uit die gehoor om hul opinies te lug en het mnr. Eben van Dyk gesê “ons moet verder gaan as dit. Die ou wie se huis nie wil registreer nie, moet op kostes van die munisipalteit ’n dagvaardiging uitreik. Die persoon wat nie sy voertuig registreer kry nie, moet dit op kostes van die munisipaliteit doen.”

Mnr. Eben van Dyk.

Hy voel die hele gemeenskap word “gestoomroller. Ons moet hulle begin dagvaar vir verliese. Besighede wat nie krag het nie en geld verloor. Mense wat kos en elektriese ware weens onderbrekings verloor.”

Sy voorstel is dat ’n Middelburgse prokureur die saak gratis moet hanteer, “want hy bly ook in Middelburg! Ons wetlike reg is basiese dienste!”

•Mnr. Andrew van Hoffen het ’n belastingbetalersvereniging voorgestel waaraan besighede en alle inwoners kan deelneem, gestig word.
Hy het gevra dat die gemeenskap die saboteurs moet afneem, hetsy foto’s of videos, sodat hulle aangekla kan word.

“Ons wil nie oorlog maak nie. Net ’n saadjie plant. Kom ons doen dinge reg.”

Hy het die munisipale werkers wat steeds aanhou werk het, al het hul kollegas gestaak, bedank vir hul werk.

Hy het ook ’n spesiale woord van dank uitgespreek teenoor ons dorp se raadslede wat in moeilike omstandighede altyd daar is vir die inwoners.

•Mnr. Izak van Zyl het gesê dat almal moeg is vir die stakings en swak dienslewering in die dorp.

En dat dié vergadering die begin is van groter dinge om ’n uit die gemeenskap ’n verskil te maak.
Hy het ook die vergadering begin en afgesluit met gebed.

•Persone wat deel wil word van die “Dis nou genoeg” WhatsApp groepe, kan ’n boodskap stuur vir mnr. Hill by 083 870 9693.

Mnr. Andrew van Hoffen.

 
Back to top button