Corrie Pretorius se saak uitgestel vir pleitooreenkoms
Die man wat vir die aanranding van ’n 16-jarige seun in die parkeerarea voor Fat Cake City in Groblersdal beskuldig word, het vanoggend vlugtig in die Groblersdal Landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel vir ’n pleitooreenkoms na 23 September 2022.
Corrie Pretorius is vandag, op die instruksie van advokaat JJ Venter, in die hof verteenwoordig deur mnr. Josef van Eeden van Middelburg.
Pretorius se advokaat JJ Venter het Woensdag sy borgaansoek op appèl in die hooggeregshof op Polokwane hanteer.
Daar is R20 000 borg aan Pretorius toegestaan, op voorwaardes dat hy hom elke twee weke by die Marble Hall Polisie aanmeld en sy paspoort inhandig by die ondersoekbeampte.
Die voorval waarin Pretorius na bewering ’n wapen op ’n tiener gerig, en die seun ook aangerand het, is op ’n 49-sekonde videogreep vasgelê en landwyd versprei.
Dit het tot ’n rasseherrie in Groblersdal gelei. ’n Groep ANC- en EFF-lede het vandag voor die hof bymekaar gekom en gesing en dans terwyl die hofsaak aan die gang was.
In ’n verklaring wat deur die Groblersdal Landdroshof tydens Pretorius se borgaansoek aanvaar is, het ’n ooggetuie vertel hoe ’n tienerseun Pretorius aanhoudend gekoggel het voor die onderonsie op video vasgevang is.
Daar is kos uit sy kosbakkie gevat, hy is gekoggel, gevloek, uitgelag, daar is gepoog om sy vuurwapen te gryp en opmerkings teenoor sy ma en pa gemaak, deur ’n groep dronk tieners.
Die voorval het omstreeks 19:15 op 15 Junie in Fat Cake City plaasgevind, waar hy kos wou bestel.
