Madagaskar Koekoek het voëlkykers op hol
Kranspoort is nou ’n internasionale voëlkyk paradys met die ontdekking van ’n Madagaskar Koekoek in die wildernisdorpie.
Die Madagaskar-koekoek is nog net ’n paar keer in Suid-Afrika opgemerk, en ’n vreemde roep Vrydag, het Kranspoort inwoners vroegdag reeds op hol gehad.
Die unieke roep van die voël is eers op ’n selfoon opgeneem, wat vinnig landwyd onder voëlkenners versprei het.
Na wye navraag is daar bevestig dat die unieke roep die is van die Madagaskar Koekoek.
Toe die eerste foto’s Saterdag van die pragvoël onder inwoners versprei is, was dit duidelik dat die Madagaskar Koekoek ’n Kaapse-draai Loskopvallei toe gemaak het.

Namate die nuus onder voëlkyk-groepe gedeel is, het navrae begin instroom en daar is besluit om voëlkykers van reg oor Suid-Afrika toegang tot die dorpie te gee vir ’n eens in ’n leeftyd ontmoeting met die Madagaskar Koekoek.
Selfs ’n oorsese toergroep se bus het by Kranspoort-dorp ingerol vir die geleentheid.
Meer as 40 besoekers, insluitende die internasionale toergroep, en kuiergaste uit Pretoria en Johannesburg, het die naweek alleen op Kranspoort-dorp aangeklop.
Bekende plaaslike voëlkenner, Johan van Rensburg, het ook nie gras onder sy voete laat groei nie.
’n Magdom foto’s van die Madagaskar Koekoek is gedurende die naweek geneem en wêreldwyd op voëlkyk-forums geplaas.
Besoekers uit Gauteng het ook reeds besprekings gemaak om Kranspoort-dorp met hul onderskeie voëlkykgroepe te besoek.

Kranspoort-dorp se Geveerde Vriende voorsitter, me. Elsie Cross, sê dat reeds vier voëlkykers vanmore by Kranspoort-dorp se hekke gestop het.
Volgens me. Cross is dit net die derde maal in vyf jaar dat die voël in Suid-Afrika gesien word, met ’n bevestigde besoek in die Kruger Nasionale Park vier jaar gelede en Bloemfontein twee jaar terug.
Dit is maar die sewende, bevestigde keer dat die Madagaskar Koekoek in die land aangetref is.
“Soos dinge nou staan klink, en lyk dit vir ons dat net die een voël ’n blaaskans hier kom neem het,” sê me. Cross.
Sy sê inwoners van Kranspoort staal hulle nou vir ’n toestroom van voëlkykers.
“Dit is inderdaad ’n eens in ’n leeftyd ervaring,” beaam me. Cross.
@middelburgobserver Madagaskar Koekoek lok voëlkykers na Kranspoort
