Bejaarde se moordenaar lewenslank tronk toe
Die man wat in hegtenis geneem is vir die moord op mnr. Koos Dreyer (75) is verlede Donderdag gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf op aanklag van moord, sowel as 15 jaar gevangenisstraf op 'n klag van roof met verswarende omstandighede.
Jonas Mmakola (30) is op 24 Augustus skuldig bevind.
Tydens die verhoor het Mmakola onskuldig gepleit op beide aanklagte en verkies om te swyg, hoewel hy spontaan bygevoeg het dat hy nie op die toneel was toe die misdrywe gepleeg is nie.
Mnr. Dreyer is op 20 Maart 2020 dood aangetref by sy huis in Ockertstraat op Groblersdal. Hy het op die badkamervloer gelê wat bedek was met motorolie. Die sitkamervloer was ook vol motorolie.
Mnr. Dreyer het hoofbeserings opgedoen, nadat hy met ‘n stomp en skerp voorwerp aangeval is. Daar was twee wonde wat sy skedel en brein binnegedring het.
Hy is beroof van ‘n swart Sony Experia-selfoon en navigator.
Ná afloop van die voorval het polisielede van die Plaaslike Kriminele Rekord Sentrum bewyse versamel van die misdaadtoneel.

‘n Familielid van Mmakola het getuig dat hy die selfoon vir R700 by die beskuldigde gekoop het en toe die polisie gekontak het.
Nog ‘n familielid het getuig dat die beskuldigde vir hom ‘n swart Sony Experia-selfoon gegee het om te gebruik omstreeks Maart 2020. Hy het dit sowat ‘n week en ‘n half gebruik toe Mmakola teruggekom het om die foon weer te vat. Sowat drie dae later het die polisie kom navraag doen oor die selfoon.
Weer het Mmakola ontken dat hy ooit ‘n swart Sony Experia aan hierdie familielid gegee het om te gebruik en hy het beweer dat beide familielede teen hom saamgesweer het.
A/o Motjile Oduetse Chriswell Makapan van die Forensiese Wetenskaplaboratorium het getuig dat hy die DNS wat op die toneel gevind is vergelyk het met die DNS van Mmakola, wat kort ná sy arrestasie geneem is.
Hy het bevind dat beide die DNS-monsters van die toneel ooreenstem met dié van Mmakola.
Mnr. Jaco Marais, streekhoflanddros, het gesê die hof neem in ag dat mnr. Dreyer ‘n bejaarde en kwesbare man van 75 jaar oud was wat binne die grense en veiligheid van sy eie huis aangeval en vermoor is en sodoende sy grondwetlike reg om veilig in sy eie huis te wees geskend is.
