Ma stort hart uit oor dwelmseun
Divan Ferreira, die 30-jarige verslaafde wat hierdie week betrap is waar hy by ’n huis gesteel het, se ma het haar hart oopgemaak.
“Ek kan nie verantwoordelik gehou word vir wat my kind doen nie. Hy is ’n volwasse man,” het Divan se ma (wat verkies om anoniem te bly om haar ander, minderjarige kind te beskerm) gesê.
Sy sê duidelik dat sy nie beïndruk was met me. Annatjie van Aardt wat ’n foto van Divan op Facebook geplaas het en vertel het hoe hy haar besteel nie.
“Dit was vir my bitter hartseer dat my seun so verneder word.”
Sy het bevestig dat hy aan heroïne verslaaf is en dat daar klagtes is dat hy steel vir sy verslawing.
“Hy was al sewe keer by rehabilitasiesentrums, maar as hy terugkom, dan val hy maar net weer terug.”
Sy onthou hoe ’n skrander kind hy op skool was in laer- en hoërskool in Middelburg. Hy het selfs diplomas verwerf in wildbestuur en sy vertel trots hoe goed hy kon spoorsny.
Maar op skool het sy al agtergekom dat hy begin dagga rook.
“Verkeerde vriende het hom op die verkeerde pad gelei.”
Toe sy pa nog geleef het, het hy vir Divan se rehabilitasie betaal en was hy vir meer as twee en ’n halwe jaar skoon.
“In daardie tyd het hy selfs ’n meisie gehad, maar na sy pa se dood was dit asof rock bottom geslaan het.”
Haar hart gaan uit na elke dwelmverslaafde en hul families in Middelburg.
“Jy kan nie twee meter in Middelburg ry sonder dat jy nie by ’n handelaar verbyloop nie. Die probleem met verslaafdes sal nie opgelos word, terwyl die handelaars op elke straathoek is nie. Ek dink nie mense weet regtig hoe erg dit is nie. Hulle is om ons, langs ons en in bykans elke tweede huis.”
Haar hart breek elke keer as dit reën of as die Hoëveldse koue sy yskombers oor die dorp kom vou.
“Maar ek kan hom nie in my huis toelaat nie, want ek bly by ander mense. Ek het eendag vir hom gesê ek het hom in die lewe leer swem, maar hy moet nou self oor die weg kom. Ek was ’n goeie ma, hy het die verkeerde besluite geneem.”
Dit krap haar om as mense vir haar boodskappe stuur of sommer by haar huis kom stop en verwag dat sy vir goed moet betaal wat haar kind gesteel het.
“Dit is nie my skuld dat hy steel of dwelms gebruik nie. Hy moet daarvoor verantwoordelik gehou word.”
As mense allerhande lelike dinge vir haar sê omdat haar kind op straat is en haar ’n ‘slegte ma’ noem, maak dit bitter seer, maar sy hou haar kop hoog.
“Heroïnverslawing is die ergste van die ergste verslawing. Iemand wat nog nie die pad met ’n verslaafde geloop het nie, weet nie waarvan hulle praat nie. Hulle moet eerder stilbly. Ek ken my kind, hy het so ’n sagte hart. Dit is die heroïne wat hom hierdie dinge laat doen. Dis so hartseer dat dwelms sy lewe oorgeneem het.”
Sy sal egter nooit haar kind weggooi nie en elke keer wat hy by haar hek kom staan en gesels, gee sy vir hom iets om te eet.
“Divan is ’n goeie, decent seun. Hy het net ’n verskriklike fout gemaak waarvan hy nie kan wegkom nie. Ek bly egter bitter lief vir my kind met die fyn humorsin.
