News

Koeëls vlieg by man se kop verby en vrou val plat na wilde skietery

Skote het net meters van ’n man af geklap en ’n vrou moes platval in ’n besigheid toe ’n opslagkoeël deur die onderneming se venster gebars het.

Vrydagmiddag tydens middagete het dit soos oorlog geklink in die Middedorp nadat rowers losgebrand het op die eienaar van ’n besigheid in die Cresta Sentrum (Walter Sisulustraat) toe hy hulle agterna gesit het.

Mnr. Hansie Griesel (bestuurder, Solidariteit, Ons Winkel) sê hy het gaan koeldrank koop by Franks Meat (Middedorp) en was op pad terug na die sy winkel, toe die skote meters van hom af klap.

Die oomblik toe hy opkyk, het hy in die vier rowers se gesigte vasgekyk.

Wat hom dronkslaan is dat hulle op hulle tyd in die deurloop tussen Franks Meat en Ons Winkel vanaf die Cresta Sentrum aangestap gekom het.

“Hulle het dalk die eerste paar treë gehardloop na die roof, maar toe hulle by die deurloop uitkom, het hulle gemaklik verder gestap.”

Verskeie mense het daarna gesien hoe die vier uitmekaar spat. Twee het in die rigting van Bhimy Damanestraat gestap en die ander twee het vir ’n paar treë in Joubertstraat se rigting gestap.

Die drie 9mm patroondoppies en koeëlpunt wat na die rooftog en skietery by die Cresta Sentrum (Walter Sisulustraat) opgetel is.

Daarna het hulle weer na mekaar gedraai en is verder af in die parkering deur ’n grys voertuig, sonder nommerplate, opgelaai.

Net voordat die voertuig in Wesstraat weggedraai het, het een van die rowers sy arm by die venster uitgesteek en nóg twee skote afgetrek.

“Ek was miskien dom, maar ek het kort nadat die skote gevuur is, gehardloop in die rigting daarvan om seker te maak dat daar nie mense raakgeskiet is nie,” sê mnr. Griesel.

Hy was nie die enigste persoon wat die skote hoor klap het nie.

Me. Debbie Scherman en me. Dina Mokwena het agter hul lessenaars gesit by die Mid-Oos Grafstene dorps-tak in die Cresta Sentrum toe hulle ’n harde klapgeluid hoor.

Me. Mokwena het opgestaan om te gaan kyk waar die geluid vandaan kom, maar op dieselfde oomblik het die venster bo in die besigheid gebars.
Sy het omgespring en gehardloop om veiligheid agter ’n muur te kry.

Me. Scherman het besef dat daar skote klap en sy het onder haar tafel ingeduik.

“Alhoewel die koeël ’n gaatjie in die venster gemaak het, het hy gelukkig teen die kosyn vasgeslaan voordat die venster gebreek is. Ons het later die plat koeëlpunt sowat ’n tree van waar Dina gestaan het, gekry,” sê me. Scherman.

Van die ander huurders in die sentrum sê hulle het ook skuiling gesoek toe die skote begin klap.

“Daar het ’n man by Lucky Supermarket uitgekom agter die vier rowers toe hulle uit sy besigheid kom. Hy het in sy hand iets gehad wat soos ’n hokkiestok lyk en geskree: ‘give me back my money!’ waarop die rowers net begin skiet het!”

Hulle het wild begin skiet en van die huurders sê dat hulle ten minste vyf of ses skote hoor klap het.

•Die werknemers van Lucky Supermarket (wat verkies om anoniem te bly) sê die rowers het hulle voorgedoen as kliënte en kort daarna wapens uitgepluk. Kontant is geroof.

Hulle is dankbaar dat niemand beseer is tydens die rooftog of gedurende die gebeure waar die rowers op hulle losgebrand het nie.
Volgens hulle is daar net drie skote geskiet, omdat hulle die doppies later buite die winkel opgetel het.

By navraag of die saak by die polisie aangemeld is, is daar net kortaf geantwoord: “no! it doesn’t help!”

Daar is ook gevra of dit die eerste keer is dat hulle beroof word en is bevestigend geantwoord.

Van die ander huurders in die sentrum het egter gemeld dat dit beslis die tweede keer is dat rowers op die besigheid toegeslaan het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button