Willem ‘bring vriende bymekaar’
Twee susters wat die Krugers na aan hul harte dra, het die gebedsgeleentheid gisteraand op die TKB plaas buite Groblersdal gereël.
Die susters (wat anoniem wil bly) sê hulle het die gebedsaand gereël, omdat “ons bitter lief is vir die Krugers en omdat ons as ‘n gemeenskap ook die familie van hier af wil ondersteun.”
Hulle was oorweldig oor die reaksie wat hulle gekry het uit die gemeenskap, maar ook van mense af wat die direkte uitsending gevolg het en hulle skat dat daar ongeveer 200 mense op die plaas self was.
“Ons het dit nie gereël omdat ons gesien wou word nie, maar omdat die Here met ons gepraat het en omdat ons onophoudelike liefde het vir almal daar wat deur die hel gaan.”
Die vroue het gevra dat as hulle ‘n boodskap kan uitdra, is dit dat almal moet aanhou bid.

“Spreek lewe en bid asseblief vir ‘n wonderwerk.”
Hulle het hul dank uitgespreek teenoor elke persoon wat die geleentheid bygewoon het en ook die direkte uitsending gevolg het.
Hulle en almal wat Willem ken, het hom beskryf as ‘n goeie mens.
“Sy familie en vriende beteken vir hom die wêreld. Willem se lewe draai om sy familie en sy vriende, wat hy so lief het, hulle is vir hom ook familie. Hy is hardwerkend, hou van uitdagings en bring vriende bymekaar wat bande vorm wat virewig hou.”

