News

Gekloude besoeker het honde op hol

Tussen die rooikatte en bobbejane het ’n likkewaan ook besluit op kop uit te steek in Kanonkop.

Me. Janet Steenkamp van Kareelaan het vanoggend benoud laat weet dat ’n likkewaan vir haar deur die kamervenster geloer het.

Die likkewaan het egter reeds gister sy eerste verskyning gemaak, toe sy vir die dag uit was.

“Ek was nie tuis nie, maar het gesien dat ek verskeie oproepe van my huisnommer ontvang het. My huishulp het die likkewaan se kop deur die eetkamervenster gesien.”

Me. Steenkamp vertel dat haar huishulp vreeslik angstig was omdat sy eers geglo het dat dit moontlik ’n slang was. Sy het haarself en die honde in die huis toegesluit.

“Gisteraand het ek en my man deur die tuin gestap om te kyk of ons die “slang” nie dalk raaksien nie.”

Nadat die Steenkamps hulle erf deursoek het en niks kon vind nie het hulle die aftog geblaas en gedink dat hulle reptiel die pad gevat het.

“Vanoggend het my honde weer beserk gegaan en toe sien ek die likkewaan buite my kamervenster. Ek het probeer om ’n foto te neem maar hy het sy kop weggesteek.”

Me. Steenkamp vertel dat sy opgewonde is oor haar besoekertjie maar dat hy ongelukkig nie kan bly nie.

“Ek het al my vensters en deure toegemaak en ons honde is in die huis toe gesluit sodat hulle die likkewaan nie probeer beetkry nie.”

Die Middelburg Observer probeer tans iemand van die Herpetologiese Vereniging kontak sodat hulle die likkewaan kan vang.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button