News

Familie wonder waar kry swendelaar hul nommer

'n Man wonder wie hul selnommer vir 'n swendelaar gegee het nadat 'n motorfiets op hul erf gesteel is.

“Die persoon het hom voorgedoen as ‘n polisieman. As dit nie ‘n polisieman was nie, wil ons weet hoe die persoon ons nommer gekry het. Ons het dit nooit op sosiale media gesit nie,” sê mnr. Tony Peyper.

“Ons dink die nommers word verkoop aan sindikate.”

Sy kleinseun se motorfiets is Dinsdag by hul huis gesteel. Die booswigte het die hele muur langs die huis afgebreek om by die motorfiets uit te kom.

“Ons het geen idee wanneer dit gebeur het nie. Dit kon deur die nag of die dag gewees het, want toe my vrou by die huis kom, het sy eers gesien die muur is afgebreek.”

Die muur is afgebreek om by die motorfiets uit te kom.

Die volgende dag is hulle na die Middelburg Polisiestasie toe om dit aan te meld.

‘n Dag later het mnr. Peyper se selfoon gelui.

‘n Man, wat homself kaptein Mogale genoem het, het gesê hy bel van Hammanskraal af.

Volgens “Mogale” het hulle die seun se motorfiets in Hammanskraal opgespoor en kan hulle die motorfiets vir hom bring.

Vir sy fooi om die motorfiets kwansuis te kom aflewer, het hy R2 000 gevra.

Mnr. Peyper het vir hom gesê dat dit baie geld is om te betaal, waarop hy dadelik sy prys verlaag het en aangebied het om dit vir R1 000 te doen. Hy het gevra dat mnr. Peyper die transaksie per E-wallet moes doen.

Mnr. Peyper het vroeg in die gesprek al besef dit is ‘n swendelaar, “want polisie sal jou nie geld vra om dit vir jou te bring nie. My voertuig is jare gelede gesteel en ek moes hom self in Gauteng gaan haal.”

Hy is dadelik na die Middelburg Polisiestasie, waar die polisie bevestig het dat die motorfiets beslis nie teruggekry is nie.

Terwyl hy daar was, die die booswig weer gebel.

Mnr. Peyper het die foon vir ‘n polisiebeampte gegee, waar hy vir die persoon wat gebel het gevra wie hy is en van watter polisiestasie hy bel.

Die man het te kenne gegee dat hy ‘n polisiebeampte van Middelburg is, waarop die polsieman by mnr. Peyper vir die swendelaar gesê het hy ken al die lede by die polisiestasie en dat hy beslis nie daar werk nie.

Dit het die kansvatter die aftog laat blaas en hy het die foon doodgedruk.

Mnr. Peyper sê die polisiebeampte het vir hom gesê dat hulle daagliks soortgelyke klagtes kry.

By navraag aan die provinsiale mediakantoor, het kol. Donald Mdhluli gesê dat géén polisiebeampte die reg het om geld te vra van ‘n slagoffer of klaer nie.

“Ons ondersoeke het ons al verskeie kere gelei na gevangenes in die Korrektiewe Dienste wat op die manier geld by mense kry. Daar is egter ook ander sindikate wat mense om die bos lei.”

Hy het dit egter duidelik gestel dat sou die vingers egter wel wys na ‘n polisielid, is dit duidelike korrupsie en sal die persoon vervolg word.

“Ons is hier om die gemeenskap te dien! Polisielede mag nié geld van enige aard van die publiek vra ten opsigte van enige saak nie!

  • Die motorfiets wat gesteel is, is ‘n rooi Zongshen ZS125, registrasienommer FDV432FS. As enige persoon die motorfiets iewers gewaar, bel 081 550 3083.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button