News

Januarie 2022 hoogtepunt – ’n Mamba op ’n boot!

Twee hengelaars het tydens ’n lekker uitstappie na Loskopdam in Januarie meer as net die visse waarvoor hulle gekom het, gekry.

Jana Boshoff het geskryf watter benoude oomblike daar op die boot geheers het:

‘Daar’s ’n mamba op my boot:’

Twee vissermanne het benoude oomblikke beleef toe daar ‘n baie gevaarlike, ongenooide gas op hul boot geseil het terwyl hulle op Loskopdam gehengel het.

Willie Cloete bedryf ‘n huurboot op Loskop. Verlede Woensdag het hy en sy vriend, Spyker Dormell, gaan visvang op die dam.
Mnr. Cloete noem dat dit net hulle op die boot was toe hulle dit in die water gesit het.

Oppad terug moes hulle petrolkanne ruil om by die oewer uit te kom. Spyker het ‘n nare verrassing gekry toe hy die balletjie wou pomp wat brandstof na die motors laat vloei en in die gesig van ‘n ellelange swart mamba vaskyk.

“Toe Spyker sy gesig daar indruk om te pomp vir petrol, is daar ‘n swart mamba sentimeters van hom af,” vertel mnr. Cloete.

Die 17 voet boot het skielik na ‘n vyf voet boot gevoel. Mnr. Cloete sê dat die slang op die boot moes geseil het toe hulle na hul visvang nog ‘n koeldrank op die water gedrink en die motors laat luier het.

“Daar was min petrol oor. Ek het gesê ons moet kyk hoe ver ons kom. Naby Marulani het een van die motors uitgesny en ons het gou petrolkanne geruil. Toe ons wou pomp vir petrol, toe is die slang daar!” het hy verduidelik.

Daar was nie wegkruipplek vir die slang in die motors nie, omdat hulle geseël is. Hulle het die heel dag gestaan en hengel voor die slang skielik sy verskyning gemaak het. Mnr. Cloete is oortuig dat een van hulle gepik sou gewees het as die slang reeds op die boot was toe hulle dit in die water gesit het.

Die slang het homself op een of ander manier in ‘n dreineringsgat aan die agterkant by die motors ingewurm en daar vasgesteek.
Op ‘n video wat op Facebook te siene is, sê mnr. Cloete dat hy banger vir die slang as vir sy eks-vrou is.

“Hier kom hy! Netnou byt hy die kabel af en dan gaan die boot nie ry nie!” sê mnr. Cloete op die video.

“Ek is vreeslik uitgehaal oor my vuil taal en slangliefhebbers het my gekruisig omdat ek die slang volgens hulle mishandel het. Maar wat sou ons doen as daai slang een van ons gepik het. Ons sou dan 30 minute gehad het om by hulp uit te kom. Ons sou dit nie maak nie.”

Mnr. Cloete sê dat hulle die slang van kant moes maak vir hul eie veiligheid.

“Ons het sy kop met ‘n stuk visstok teen die kant vas gedruk en hom toe drie-miljoen-vier-honderd-en-tagtig keer met ‘n klein fillet messie in die kop gesteek,” sê mnr. Cloete.

Hy sê dat hy vir twee dae lank sy boot moes was en skoonmaak omdat hy en sy vriend so groot geskrik het.

“My boot se naam is Lucky II maar ek gaan dit nou verander na Very Lucky II,” grap mnr. Cloete….

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button