Tweede storm tref Kranspoort: Weerlig tref huise, bome
“Julle het klaar een vir vandag gestuur daar uit Middelburg, hou maar julle ander storms,” skerts mnr. Van Niekerk.
’n Tweede storm in dae het Kranspoortdorp vanmore getref.
Dit is die tweede geweldige storm wat die area in die afgelope twee weke tref.
Vandag is mnr. Eben van Niekerk se huis raakgeslaan deur ’n enorme weerligstraal en is daar in sekere areas tot 40 millimeter reën in ’n kort bestek gemeet.
Genadiglik, is geen strukturele skade aan die bosveldhuis aangerig nie.
Mnr. Van Niekerk sê dat die weerligstraal die afleier getref het, voordat hy dak toe gespring het.
Met die elektriese toestroom is al wat elektriese kabel buite gesmelt.
“My alarmsisteem en CCTV kameras is alles flenters geslaan,” sê mnr. Van Niekerk.
Kort na die slag was sy huis omring deur bure wat wou help.
“Dis ’n wonderlike gemeenskap,” sê mnr. Van Niekerk.
Hy sê daar is verder minimale skade en dat hy dankbaar is “ons het so lig daarvan afgekom”.
Meer reën en donderstorms word vir vandag voorspel.
“Julle het klaar een vir vandag gestuur daar uit Middelburg, hou maar julle ander storms,” skerts mnr. Van Niekerk.
