News

Ma oor Kaydo: ‘Hy was ’n regte engel op aarde’

Soos Dawid en Jonathan, so was die vriendskap tussen Kaydo Venter (14) en JP Human (15).

 

Kaydo, ’n geliefde graad agt leerder van HTS Middelburg, is Maandagmiddag oorlede nadat hy saam met JP en sy ouers, Jurgens en Linda, en JP se jonger boetie, Wiehan (10), by Dirt Trax met veldmotorfietse gery het.

Op pad hospitaal toe, het Kaydo op JP se skoot op die agterste sitplek gelê.

“My kind het die hele tyd met hom gepraat, vir hom gesê om terug te kom,” het mnr. Human vanoggend gesê.

Hulle het omstreeks 12:00 by Dirt Trax aangekom.

“Om 14:30 was ons al by die Life Midmed Hospitaal. Ons was net ’n klein rukkie daar.”

Kaydo het met mnr. Human se veldmotorfiets gery en hulle het die roete op die baan gedoen.

Mnr. Human het by die aanmeldgedeelte gewag waar hy ’n ogie oor Wiehan gehou het.

“Hulle moes kom koeldrank drink en JP het gestop en gevra of Kaydo al verby is.”

Toe hulle besef hy het nog nie by hulle aangekom nie, het JP teruggejaag op die roete om Kaydo te soek.

Sowat 100m vanaf die area waar hy sou stop, het JP hom gekry en gejaag om sy pa te gaan haal.

Mnr. Human het soontoe gehardloop en gesien dat Kaydo nog asemhaal.

“Ons het aanmekaar die ambulans gebel en gesukkel om na die regte mense deurgeskakel te word. Ek het Kaydo se pa, Marius gebel, en gevra of ek hom eerder self kan hospitaal toe neem.”

Daar is ooreengekom dat Kaydo se ouers hom by die Life Midmed Hospitaal ontmoet.

Met Kaydo op sy skoot het hy aanmekaar met sy boesemvriend gepraat.

By die hospitaal het Kaydo se ouers hom ingewag en het die dokters dadelik na Kaydo omgesien.

“Hulle het sowat 10 minute later nog gesê alles lyk okay. ’n Halfuur later het die dokter kom sê hulle het alles gedoen wat hulle kon, maar hulle kon hom nie terugbring nie, dit is verby.”

Mnr. Human sê Kaydo was “soos my kind se eie broer, vir ons soos ’n eie kind. Die twee was vanaf kleuterskooldae onafskeidbaar.”

Die seuns was saam in Vuurvliegie Dagsorg en vandaar na Laerskool Staatspresident C.R. Swart.

JP is ’n jaar ouer en daar was groot opgewondenheid toe Kaydo ook hierdie jaar sy graag agt jaar by HTS Middelburg kon begin.

Naweke is daar saam motorfiets gery, gehengel en geskiet. Hulle was vakansies altyd saam. “My kind het soveel vrae…hy mis Kaydo verskriklik.”

Die Venter gesin. Mnr. en me. Marius en Kaxandra Venter saam met Kaydo en klein Minique (voor).

 

Mnr. Human onthou hoe ’n uitblinker Kaydo van jongs af was.

“Hy het aan álles deelgeneem en was baie slim.”

• Kaydo se ma, Kaxandra het hartseer gesê dat haar kind “’n regte engel op aarde was wat baie mense se harte aangeraak het. Ek het nou eers besef hoe geliefd hy was.”
Hy word oorleef deur sy ouers, Marius en Kaxandra en vyfjarige sussie, Minique.
• Hulle is tans besig om begrafnisreëlings te tref.
• Mnre. Pieter Fouché (hoof, Laerskool Staatspresident C.R. Swart) en mnr. Hoppie van Jaarsveld (hoof, HTS Middelburg) het beide medelye met die familie betuig.
Mnr. Fouché onthou Kaydo met sy “sagte oë en mooi hart wat altyd bereid was om te help”. Kaydo was ’n leier by dié skool verlede jaar.
Mnr. Van Jaarsveld sê Kaydo was geliefd en meelewend op alle vlakke by HTS Middelburg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button