‘Vreemde’ diere langs die pad val bakkie aan
Vier vreemde diere het Maandagaand 'n bakkie aangeval.
Mnr. Jean-Pierre du Toit het hom boeglam geskrik vir die gedrag van die diere. Hy het eers gedink dit is jakkalse.
Hy kon net ‘n kort video van een van die diere geneem kry en wil graag by lesers hoor of hulle kan uitmaak wat dit kan wees.
Mnr. Du Toit het omstreeks 18:30 op ‘n grondpad langs die nuwe uitbreiding van Dennesig wat na Keerom lei, gery, toe hy die diere in die pad opmerk.

Soos hy aangery gekom het, het hy eers gedink dit is dalk vier jakkalse, maar het dadelik besef dit is nie jakkalse nie, toe hy langs hulle kom.
Die oomblik toe hy stadig verby ry om deur die venster te kyk wat dit is, het drie van die vier skielik die Bantambakkie se wiele probeer byt en erg gegrom.
Twee van die diere was aan die linkerkant van die bakkie en het probeer om deur die venster na hom te byt.
Die een aan die regterkant het ook deur die venster probeer spring om hom te probeer byt.
Hy het dadelik sy vrou, Chrizaane, gebel en van die voorval vertel.
Sy het aanvanklik gedink dit is aardwolwe, “maar hy het gemeld dat hulle aggressief was. Ek weet aardwolwe is meetal insekvreters en ek is verskriklik nuuskierig om te weet waarom hulle so aggressief sou optree.”
Me. Du Toit het genoem dat sy op een van die plotte grootgeword en daar gebly het vir 22 jaar voor sy en haar man dorp toe getrek het.
“Ek onthou dat ek as kind net een keer ‘n aardwolf gesien het in die area.”
Mnr. Du Toit het geen idee watse diere dit was nie.
“Meeste mense praat mos maar net van die hiënas soos ons almal hulle ken in die wildtuin. Min mense weet dat aardwolwe deel van die hiëna-familie uitmaak,” sê me. Du Toit.
Sy voeg by dat dit vir haar amper lyk soos die gestreepte hiëna, “maar ek glo nie hulle kom hier voor nie.”
Na aanleiding van die kort video en foto’s, wil hulle graag hoor by lesers of hulle weet watse dier dit is.
‘n Mens kan duidelik op die een dier wat afgeneem is, sien dat die hare op sy rug orent staan, asook die donker lyne op die ribbes.

- Ekoloog Jannie Coetzee het na aanleiding van die foto wat van die video geneem is, die dier geïdentifiseer as ‘n aardwolf.
Hy meld dat hulle algemeen in die Hoëveld voorkom en het bevestig dat hulle net insekte vreet.
“Hulle vang nie skape nie!”
Hy het genoem dat aardwolwe gewoonlik alleenlopend is en dat dit beslis uniek is om vier so bymekaar te kry.

- Afgetrede veearts, dr. Leon Connoway, stem saam dat dit ‘n aardwolf is.
Dit is vir hom ook vreemd dat hulle aggressief was. “Hulle wou mekaar moontlik beskerm, of daar was dalk kleintjies in die omgewing.”
‘n Paar jaar gelede is ‘n aardwolf, net voor Botshabelo, by die Keeromspruit doodgery.
Stuur jou WhatsApp kommentaar na 072 248 3855 of stuur ‘n e-pos na daleen@mobserver.co.za oor die ongewone storie.
As jy enige wilde dier in die omgewing opmerk, stuur jou foto’s en video’s na dieselfde nommer of e-pos.
