Mei hoogtepunt: Derbytyd – Land lag lekker vir kommentator se “Mengels”
Die Derby tussen Hoër Tegniese Skool Middelburg en Hoërskool Middelburg het talle spanne laat lag, en ander weer laat huil.

Middelburg Hoër het natuurlik vanjaar skoonskip gemaak.
Voorwaar, die derbydag was “aan soos Japan”.
Kommentator, Herman Geldenhuys, het intekenare laat huil van die lag met sy “Mengels”.
Daar was egter nadraaie en die koerant het so berig:
Die kommentator van die derby tussen HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg op SuperSport, het doodsdreigemente gekry.
Herman Geldenhuys het na ‘n week se stilte, reageer op die kommentaar wat veral op sosiale media soos ‘n veldbrand versprei het.
Daar was lof vir sy poging, maar ook skerp kritiek. Sy opmerkings soos “dis aan soos Japan” en “they cook with gas” het sommige laat skater en ander (verskoon die woordspeling) rooi laat sien.
Dit is veral sommige HTS Middelburg ondersteuners wat gevoel het die skool is verneder, omdat daar op ‘n keer verwys is na die “Middelburg Tactical School”.
Geldenhuys sê ‘n persoon het hom ses keer gebel en nie net sy ma gevloek nie, maar ook doodsdreigemente gemaak.
“Hy het nie die durf om my van sy privaat nommer af te bel nie.”
Daar was ook ondersteuning vir Geldenhuys met George Becker wat in ‘n brief aan die Middelburg Observer sê “as ek julle is sal ek die man om verskoning vra vir julle snedige opmerkings”.
Die uitsending het nie net op Middelburg opslae gemaak nie. ‘n Inwoner vertel dat daar by Afrikaans Hoër mense was wat saamgekoek het om na die kwinkslae te luister.
‘n Inwoner het ‘n video van die opname aangestuur na ‘n liedjieskrywer en gevra hy moet dit verwerk.
Geldenhuys sê ‘n ander skool het hom ook genader om weer uit te saai.
Oor sy poging spot hy dat sy graad een Engelse juffrou nie trots sou wees nie.
“Ek het die wedstryd al drie keer gekyk, maar stem saam, dit is beter sonder klank. Na alles is ek bly dat mense darem kon lag…”.
