News

Vrou veg terug teen aanvaller om te oorleef

Die vrou wat vanoggend op 'n plaas wreed met 'n panga aangeval is, het met bloed wat uit haar wonde drup, teen haar aanvaller baklei.

Mnr. Michael Prinsloo het vertel hoe sy vrou, Lorraine (56) teen haar aanvaller moes baklei om te oorleef.

Kort voor 08:00 vanoggend het die alarm by hul seun se huis, wat ook op die plaas Blombos (Elandsdoorn omgewing, Denniltonpad) bly, afgegaan. Sy seun hulle was op pad terug van vakansie af en was dus nie tuis nie.

“Die aanvaller moes seker gesien het ek ry en toe op my vrou toegesak het.”

Me. Prinsloo was besig om ontbyt te maak en kolwyntjies te bak, toe die booswig by die huis instorm.

Hy het haar aangeval met die panga en deurentyd vir geld, skoene en kontant gevra.

Me. Prinsloo is met hom na die kamer waar sy vir hom haar beursie en mnr. Prinsloo se tekkies gegee het.

Hy het egter nie daarin belanggestel nie en dit deur die venster gegooi.

Sy het reeds hewig gebloei van die kapwonde wat hy haar toegedien het en het sy op pad terug na die kombuis nog ‘n laaste poging aangewend om haarself te red.

Net buite hul kamer is ‘n tipe kluisdeur, wat weens veiligheidsredes aangebring is.

Die oomblik toe hulle by die kamerdeur sou uitgaan, het sy hom vorentoe uit die kamer gestamp, teruggespring in die kamer en die deur gesluit.

Me. Prinsloo het haar man per radio geroep en ook die boere op die kanaal.

“Die boere was baie vinnig daar, want toe ek by my vrou in die kamer instorm het hulle reeds buite gestop.”

Mnr. Prinsloo was hewig ontsteld toe hy oral in sy huis plasse bloed kry soos sy met die aanvaller getoei het.

“Hy het gegaan vir haar keel en kop. Haar slagaar is net-net gemis. Sy het ernstige wonde op haar kop en hande”

Kort nadat die boere kom hulp verleen het, het die span van WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) ook opgedaag. Hulle het dadelik ‘n spoorsnyer ingespan om die aanvaller agterna te sit.

Mnr. Pieter Groenewald (WIPS) en sy span het binne ‘n uur en ‘n half die verdagte, sowat agt kilometer vanaf die Prinsloo’s se huis opgespoor.

In sy besit is ‘n toeknyp broodrooster en ‘n afstandbeheer van die televisie gevind.

Mnr. Groenewald het gemeld dat hulle nie so gou ‘n arrestasie sou kon maak, as dit nie vir die hulp van die boere in die omgewing was nie.

“Hulle het dadelik alle paaie toegemaak en ons werk vergemaklik.”

Mnr. Prinsloo het genoem dat daar CCTV Videokameras by sy seun se huis is.

“Daar is later op die videomateriaal gesien dat die hond die rower beetgekry het en hy in ‘n boom geklim het. Hy het ook die hond met ‘n pyp geslaan.” Die hond het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Vandaar het die verdagte opbeweeg na die ander huis waar me. Prinsloo aangeval is.

‘n Dokter het me. Prinsloo se wonde toegewerk in Groblersdal, waarna sy na die Life Midmed Hospitaal geneem is.

Sy sal moontlik tot Sondag behandeling in die hospitaal moet kry.

Die verdagte sal Maandag in die Groblersdal hof verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button