News

Julie hoogtepunt – ‘Die Loskop Marathon is gered!’

Op 29 Julie hierdie jaar berig die Middelburg Observer dat ons ’n reuse ekonomiese inspuiting vir die dorp gaan kry wanneer daar weer duisende atlete in 2023 op Middelburg toesak vir die jaarlikse Loskop Marathon.

Die berig vertel hoe die marathon gered is met Nashua wat die hoofborg sal wees vir die wedloop.

Die Loskop Marathon is gered!”:

Die dorp kan hom klaarmaak vir ’n reuse ekonomiese inspuiting in 2023, wanneer duisende drawwers en ondersteuners hierheen opruk.
Nashua is die nuwe hoofborg van die marathon, wat op 17 Junie 2023 aangebied word.

Hein Koch, wat bekend staan as ‘Mnr. Loskop’ vir sy betrokkenheid as hooforganiseerder vir 33 jaar by die wedloop, het die datum bevestig.

“Met die Covid pandemie het al die marathonne tot stilstand gekom, maar ons kan nou weer beplan aan die nuwe Loskop.”

Hy noem dat alle wedlope vroeg in die jaar geskeduleer word rondom die Comrades marathon, wat geskuif het na Augustusmaand.

“Dit het ’n groot gaping gelaat vir atlete wat voorberei vir die Comrades en dit is waarom die Loskop marathon se datum aanstaande jaar so belangrik is.”

Alle aanduidings is dat die Comrades volgende jaar op die 20ste Augustus aangebied sal word en die Loskop is die ideale voorbereiding vir atlete om te kwalifiseer.

Dit bied hulle ook genoeg tyd om te herstel tot die Comrades.

Koch sê volgende jaar se datum val oor ’n langnaweek, reg voor die skoolvakansie en atlete kan dit deel van ’n vakansie maak.
Nashua is nie ’n nuwe naam by die Loskop nie.

“Ons het al 33 jaar ’n noue verbintenis met Nashua. Hulle was van die begin af vir 33 jaar betrokke by die Loskop as een van die waterpunte. Hulle vat nou die leisels as hoofborg.”

Alhoewel Forever Resorts nie meer die hoofborg is van die Loskop marathon nie, is hulle steeds aan boord met ander reëlings.

“Forever Resorts het 7 000 T-hemde gekoop vir die Loskop marathon, maar die wedloop is gekanselleer. Hulle skenk daardie hemde vir ons en kan ons net die drukwerk daarop laat doen.”

Die span van Forever Resorts sal ook steeds die parkering by die oord hanteer. Forever Resorts was vir 13 jaar die hoofborg van die wedloop.

Voor hulle was Columbus Stainless (voorheen bekend as Middelburg Steel & Alloys) vir 19 jaar die hoofborg. Columbus het egter nooit hul steun onttrek aan die Loskop nie en beman steeds elke jaar ’n waterpunt.

Koch meld dat besighede die 17e Junie 2023 nou al op hul dagboeke moet aanteken.

Besprekings vir waterpunte en ander borgskappe kan van Januarie 2023 af gedoen word. Persone wat meer inligting verlang rakende die marathon, kan hom bel by 073 424 5984.

• Die Middelburg Marathonklub het ’n boek aan mnr. Junior van Niekerk (Senior Direkteur, Nashua) oorhandig.

Die simboliek daarvan is om te sê dat die geskiedenis van die Loskop oorgedra word aan Nashua en dat hulle voortbou op die nuwe fase van die Loskop geskiedenis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button