November hoogtepunt – Van liefde in Venisië tot gholf in Portugal
Middelburg spog met ’n opwindende sportgemeenskap wat kop-en-skouers bo die land uitsteek.
Legendes soos Bakkies Botha, Kwagga Smit, Tommy du Plessis, Wynand Claasen en Conrad Breytenbach is almal uit die selfde skoot gebore.
Maar in ons midde woon daar steeds legendes soos oom Johnny Kruger wat kan spog met twee kolhoue en ’n leeftyd se toewyding aan die Middelburg Gholfklub.
Ons 86 jarige gholfspeler het ’n leeftyd se staaltjies om te deel van hoe hy die wereld gereis het en hier is sy verhaal:
Van liefde in Venisië tot gholf in Portugal – Middelburg Observer (25 November, Bld. 10).
Met Thailand reeds gemerk as sy volgende bestemming, het die wye wêreld nog nie genoeg gesien van Middelburg se 86-jarige reisiger nie.
Johnny Kruger het skaars twee maande geleede stokke geswaai op die asemrowende gholfbane van Spanje en Portugal.
Johnny, na wie liefdevol verwys word as “oom Johnny” deur sy gholfmaats, is ’n voorbeeld van “don’t let the old man in” nadat hy vir 25 dae saam met twee vriende, Fanus van Aswegen en Chrisjan Basson, op ’n sosiale gholftoer was.
Die gholftoer is in 2020 reeds deeglik beplan tot Covid-19 sy opwagting gemaak het en veroorsaak het dat die drie hulle planne twee keer moes kanselleer.
Hulle het in Septembermaand eindelaaste tuisgrond verlaat om die legendariese Santa Maria, Mijas, en die Alhaurin el Grande gholfbane, te besoek.
Maar op eie bodem is “Oom Johnny” self ’n legende, nie net as erelid nie, maar die oudste lid van die Middelburg Buiteklub.
Hy het in 1966 aangesluit toe die klub nog ’n sinkhuis was waar Mica vandag geleë is. In daai tyd het hy vir vier jaar op die gholfkomitee gedien en ’n verdere 14 jaar op die bestuurskomitee.
Met 60 jaar se gholfondervinding kom dit as geen verrassing dat hy vir 34 jaar liga gespeel het vir Middelburg Buiteklub nie. Hy spog ook met twee kolhoue, een wat hy op Middelburg se baan geslaan het terwyl die tweede op Gary Player se Sun City baan was.
Johnny het sy hele lewe lank ’n liefde vir reis gehad en daar is skaars ’n plek op hierdie aarde wat hy nie gesien het nie.
Sy vrou, Lynn, se verloofring het hy in Parys gekoop. ’n Jaar later raak hulle in Venisië verloof, en twee jaar daarna trou hulle op die rots van Gibraltar.
Hy het vir meer as 20 jaar die wêreld verken en spog dat daar niemand is wat dit so goedkoop soos hy kan doen nie.
Hy verkies ook om sy eie toere te reël, sodat hy op sy eie tyd, die bekendste toerisme aantreklikhede kan geniet.
“Almal moet in hulle lewe reis, dit verbreed net mens se horison om te sien hoe ander lande werk en dinge op hulle manier doen.”
Op sy ouderdom is hy nog perdfris en gesond “omdat ek nie stilstaan nie”. Dit hou my aan die gang en ek is gelukkig dat ek vandag nog kan onthou wat ek 20 jaar gelede beleef het.”
Terwyl sy liefde vir reis nou al oor die 20 jaar duur, sê hy Suid-Afrika spog met ewe mooi gholfbane en sy gunsteling bestemming bly maar “die wildtuin”.
