Vrou vas wat glo vals Juanita du Plessis kaartjies verkoop
Roosmarie van Staden wat uit Middelburg gevlug het weens verskeie bedrogklagtes teen haar, is vroeër vandag in Bothaville gearresteer.

Die polisie het die arrestasie bevestig en speurders van Middelburg is reeds in kennis gestel dat sy in aanhouding is.
Daar is die week weer ’n berig oor haar in die Middelburg Observer, nadat verskeie klaers uit Bothaville die koerant laat weet het dat sy daar ook met haar streke begin het.
Sy leen graag geld by mense sonder om dit terug te betaal.
In Middelburg het sy onder meer kaartjies vir ’n Juanita du Plessis vertoning verkoop, wetende dat die sogenaamde konsert nooit sou plaasvind nie.
Sy het ook brandstof by ’n plaaslike vulstasie ingegooi sonder om daarvoor te betaal.
Sy staar minstens twee kriminele klagtes in Middelburg in die gesig, hoewel verskeie klaers aan die koerant bevestig het dat hulle nie sake teen haar gemaak het nie.

Noudat sy gearresteer is verwag die polisie dat meer klaers na vore sal kom.
In Bothaville het sy na bewering onder meer by die Kaia, ’n wegneemete restaurant, kos ter waarde van meer as R2500 op die kroeg se naam waar sy gewerk het, gekoop.
Die kroeg word nou vir die skuld verantwoordelik gehou.
Sy het ook na bewering geld en drank by die betrokke kroeg gesteel.
Bothavillers het begin lont ruik nadat Middelburg Observer berigte oor Roosmarie wyd op sosialemedia deur haar slagoffers versprei is.
Die week het plaaslike klaers, na bevestiging dat sy steeds in Bothaville is, weer die berigte op al wat Bothaville sosialemedia groep geplaas.
Sy het Woensdagaand op Facebook ’n boodskap aan die Middelburg Observer joernalis wat oor haar berig het ’n boodskap gestuur wat lees “kontak my asseblief”.
Toe sy vandag vroegmore geskakel is, wou sy nie praat nie, maar het wel ’n leuen vertel.
Sy het gesê sy is terug in Middelburg en sou later vandag by die koerant se kantore inloer.