“Wonderwerke gebeur wel – winkel vol engele” – verslae winkeleienaars ruim op na petrolbomme
“Wonderwerke gebeur,” is die kredo wat uit winkeleienaars by Fountain Corner se monde bly stroom na verlede Donderdag se petrolbomaanval op Jud'sies.

Azalea Bloemiste se Marita Hatting het vanoggend weer getuig van “God se goedheid” toe Cleaning Specialists by haar besigheid opgedaag het om die winkel verniet vir haar skoon te maak.
Me. Hatting se bloemiste is reg langs die Horlosie Kliniek, wat heeltemal afgebrand het.
Die eienaar van Horlosie Kliniek, mnr. Willie Bester, wat na die aanval dood in sy winkel aangetref is, was verantwoordelik vir die chaos.
Hy het sy aanval op Jud’sies en die eienaars Kappie en Judy-May Kapp, tydens toemaaktyd Donderdagmiddag geloods.
Hy het die egpaar met petrolbomme in die winkel getakel en ook op hulle geskiet.
Vyf koeëlpunte is reeds in die winkel herwin.
’n Bemarker vir Cleaning Specialists het Vrydag, na die aanval, by die sentrum besigheidsprofiele gaan uitdeel.
Sy was egter so geskok oor wat sy gesien het, dat die eienaar van Cleaning Specialists geskakel is met die woorde “ons moet help”.
Die eienaar, me. Rika Harmse, het intussen van die aanval tehore gekom en dadelik geantwoord “ons gaan die blomme tannie help”.
Me. Hatting het nie versekering nie, maar die sentrum wel, so die strukturele skade aan die winkel sal herstel word, die inhoud van die winkel nie.
Trane van dankbaarheid het weer oor haar wange gestroom, weens Cleaning Sepcialists se gulhartigheid.
’n Span skoonmakers het vroegdag aan die bloemiste se deure geklop en die winkel word tans van vloer tot dak skoongeskrop.
Die winkel het slegte rookskade opgedoen.
Langsaan het me. Kapp ook weer die stukke begin optel.
Sy sê “my winkel is vol Engele, ons gaan nog groter sukses vanjaar beleef”.
Meer van haar storie word in Vrydag se koerant vertel.
Mnr. A.J. van der Merwe het ook ingstem om me. Hatting se matte, haar meubels en die dierevelle teen haar winkelmure skoon te maak.
Mnr. Van der Merwe bedryf sy eie persiese matskoonmakery.
“Ek is ongelooflik dankbaar,” het me. Hatting emosioneel gesê.
•Talle inwoners het sedert Vrydag na die koerant gebel om te vertel dat hulle waardevolle of horlosies met sentimentele waarde in die brand vernietig is. Lesers wat horlosies in die brand verloor het, word gevra om Gerhard Rheeder te bel by 013 243 1434.