News

Man “beserk” toe hy petrolbomme gooi

“Daai man was beserk, sy gesig, dit was verskriklik!” So sê Marita Hattingh, eienaar van Azalea Bloemiste vir meer as 40 jaar, nadat een van die huurders in die Fountain Corner ’n vuurwapen in haar gesig gedruk en gedreig het om haar dood te skiet.

Sy was die laaste een wat die man in die oë gekyk het, voordat hy sy eie lewe geneem het.

Die skieter is intussen geïdentifiseer as Willie Bester, eienaar van die Horlosie Kliniek/Clock Services.

Bester het eers twee petrolbomme na Kappie (Frikkie ) Kapp geslinger en een na sy vrou Judy-May, eienaars van Jud’sies. Hy het daarna ten minste ses skote op die egpaar afgevuur, voordat hy uit die winkel gevlug het.

 

Die horlosiewinkel waar Willie Bester sy besigheid bedryf het in Fountain Corner.

Hy het daarna op mnr. Willie Pretorius en ’n tandarts assistent geskiet, voordat hy by Azalea Bloemiste in is.

“Ek het net aanhoudend by Willie gesmeek dat hy my nie moet skiet nie, oor en oor het ek gepleit: “‘asseblief, moet my nie skiet nie!’”

Marita sê op daardie oomblik het sy “net uitgesny.”

“Ek het aan niemand en niks gedink nie, ek was ’n blank.”

Terwyl Bester die vuurwapen op haar gerig het, het hy gesnou: “Vandag skiet ek jou vrek!”

Aanval op oud rugbyspeler in sy winkel was goed beplan

Hy is skielik uit die bloemiste na sy voertuig wat in die parkeerterrein van Fountain Corner gestaan het. Die voertuig is met ’n petrolbom aan die brand gesteek, voordat hy by Horlosie Kliniek in is. Die winkel is ook aan die brand gesteek.

Sy verkoolde liggaam is gisteraand laat uit die Horlosie Kliniek verwyder.

Petrolbomme gegooi, skote klap, een sterf by Fountain Corner

Azalea Bloemiste was reeds weer vroeg vanoggend oop vir sake, al is daar groot skade aan die winkel: “Ons het begrafnisruikers wat moet uit.”

Dit is die tweede brand waar Azalea Bloemiste uit die as moes opstaan. Jare gelede is die bloemiste tydens ’n brand in die Midpark Sentrum verwoes.

Marita se man, Pieter (69), is op 23 Augustus 2001 tydens ’n plaasaanval op die Ou Witbankpad vermoor.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button