Noodkreet na verkragting
’n Bejaarde vrou se nood aan kolostomie sakkies is so groot dat sy haarself van voor af blootstel en haar grootste nagmerrie moet herleef, uit die hoop dat barmhartige samaritane tot haar redding sal kom.

Die 63-jarige Elsie (van weerhou), is 14 jaar gelede vermoedelik verkrag by ’n kliniek in Johannesburg terwyl sy onder sedasie was vir ’n dagprosedure.
Elsie vertel dat sy met soveel geweld verkrag is, dat haar rektum geskeur het en sy nou kolostomie sakkies moet dra.
Sy was in 2009 op verwysing van ’n dokter na die kliniek toe weens blaasprobleme.
Al wat sy kan onthou is dat sy “histeries was van die pyn” nadat sy wakker geword het.
“Ek het twee panado’s by die koffiewinkel gedrink vir die pyn, en gevra dat my seun my asseblief moet huistoe neem.”
Dit was eers by die huis toe sy toilet toe gaan, wat sy agter gekom het dat haar “binnegoed bly uitval het.”
Elsie vertel dat sy so verleë was, dat sy nie vir een van haar kinders daarvan vertel het nie.
Haar dogter het eers twee jaar later daarvan uitgevind toe sy by haar ma kuier.
“My ma kan weens die skade gladnie knyp nie, en ek was in die bad toe sy dringend die toilet moes gebruik. Dis toe wat ek met ’n skok agtergekom het dat haar binnegoed uitval en daarop aandring dat sy ’n ginekoloog moes sien.”
Die ginekoloog het vir hulle gesê dat haar beserings ooreenstem met iemand wat gewelddadig verkrag is. Die skade aan haar rektum is onherstelbaar en sy dra permanent kolostomie sakkies.
Die sakkies kos R1 800 vir tien, wat nie sy of haar twee kinders kan bekostig nie.
Sy kry soms sakkies by die Middelburg Hospitaal, maar hulle gee ook net tien wat Elsie ’n maand moet hou, en hulle het bitter selde voorraad.
Elsie gebruik ’n sakkie ’n dag.
Daar word gevra van diegene wat bereid is om te help, dat Elsie eers geskakel word sodat die regte sakkies geskenk word.
Sy kan gekontak word by 072 178 3360.
