News

Dief soos springhaas oor mure voor hy vasgetrek is

’n Man wat soos ’n springhaas vir bykans twee ure heen en weer oor mure gespring en selfs in ’n dak probeer wegkruip het, is vanmiddag in Palmstraat deur lede van Mid Alarms vasgetrek.

“Toe hy weer oor die muur duik, het hy in my vasgespring in Palmstraat en ons het hom vasgetrek,” vertel Johan Oberholzer (Operasionele bestuurder, Mid Alarms).

Hy sê dat reaksielid Richard Bredenhann omstreeks 13:00 gesien het dat ’n verdagte oor die rolbalklub in Kanonkop se muur spring.
Hy het hom dadelik agterna gesit en die ander reaksielede gekontak vir hulp.

Vir bykans twee ure het die booswig ’n kat-en-muis speletjie met die reaksielede gespeel.

“Terwyl hy oor mure gespring het tussen Karee-, Broodboom-, Palm- en Tambotiestraat, is daar verskeie artikels gesteel wat in die erwe was,” sê mnr. Oberholzer.

As die verdagte egter die lede van Mid Alarms gesien het, is die gesteelde artikels neergesmyt en het hy net weer in ’n ander erf gespring, waar iets anders gesteel is.

Hy het deurentyd sy klere verander, deur byvoorbeeld ’n baadjie aan te trek (’n sak met klere, wat hy vermoedelik gebruik het om aan en uit te trek, is gevind).

Op een stadium het hy in Kareestraat op ’n huis se dak geklouter en die dakteëls geskuif om te probeer wegkruip, maar die reaksielede het hom gesien en het hy weer oorgespring in ’n ander erf in.

Mnr. Oberholzer sê die lede het ’n gevaarlike mes in sy hand opgemerk terwyl hy gevlug het.

“Gelukkig het hy dit iewers verloor, voor hy in my vasgespring het, anders kon dinge heeltemal anders uitgedraai het.”

Die verdagte is aan die polisie oorhandig en verskeie mense het aangedui dat hulle wel betredingsake sal open.
Hy sal waarskynlik ook aangekla word vir besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

“As die mense die artikels kan uitken wat gesteel is, glo ek die klagte sal verander na besit van gesteelde eiendom.”

• Van verlengingskoorde tot ’n bootradio is tussen die artikels wat gesteel is.

• Die verdagte sal moontlik more in die hof verskyn en sy naam en foto mag nie op hierdie stadium gebruik word nie.

• Mnr. Oberholzer sê sy span wat saamgewerk het, asook die ander lede wat tussendeur nog by alarms ook uitgekom het, verdien elkeen ’n pluimpie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button