News

“Stop!” – Polisie vra bewerings oor Willem Kruger moet ophou

Die polisie vra dat wilde bewerings, en aannames wat gemaak word in die Willem Kruger ondersoek, gestaak word.

“Al die bewerings wat gemaak word, dra by tot die trauma van mnr. Kruger se familie,” het brig. Selvy Mohlala, provinsiale SAPD woordvoerder, vanoggend omgekrap gesê.

Hy het dit ook duidelik gestel dat berigte wat in die Sondagkoerant, Rapport, verskyn het, nié deur die polisie vir hulle gegee is nie.

“Ons weet nie wie vir hulle die inligting deurgee nie. Ons vermoed dit is ’n privaat ondersoeker.”

Daar is weer vir hom gevra oor die bewerings dat daar beslag gelê is op Janneman Uys se voertuig.

’n Anonieme persoon het die Middelburg Observer hierdie week gebel en gevra, “of julle al ooit die moontlikheid ondersoek het of Janneman se voertuig nie dalk die skade gehad het voor hy na die rampartytjie toe is nie? Weet julle dat daar kwotasies gekry is vir die regmaak van die voertuig vóór die rampartytjie?”.

Daar is verneem dat die voertuig ’n bees gestamp het en dat Janneman voor die partytjie reeds ’n foto van die skade vir sy versekering gestuur het.

Brig. Mohlala wou nie daaroor kommentaar lewer nie, maar het bevestig wat hy verlede week gesê het: “Ek sê weer, daar is nié beslag gelê op ’n ander voertuig nie. Al voertuig wat deel was van die ondersoek, is dié van die oorledene.”

Willem Kruger se voertuig nadat dit uit die water gesleep is. Die polisie vra dat mense moet ophou aannames maak, aangesien dit baie traumaties vir die familie is.

Daar is weer navraag gedoen by Janneman oor die anonieme inligting, maar hy het nie daarop gereageer nie.

Hy het verlede week per WhatsApp gesê dat hy “dalk later bereid sal wees om te praat, maar nie nou die polisie se ondersoek wil belemmer of beïnvloed nie.”

Daar is bewerings gemaak dat die toneel “gekontamineer is,” omdat Willem se bakkie uitgesleep is en sy oorskot verwyder is voor die ondersoekspan daar was.
Volgens inligting destyds, was dit duidelik dat daar wel polisielede op die toneel was toe die bakkie uitgehaal is.

• Brig. Mohlala was ook kwaad oor ’n video wat op Facebook versprei is, waar Willem se bakkie uitgesleep word nadat dit gevind is.

• Brig. Mohlala is direk gevra of daar tans gekyk word na ’n moontlike moordondersoek.

Hy stel dit duidelik dat daar tans nog net ’n geregtelike doodsondersoek is, aangesien hulle wag vir die lykskouingsverslag.
“Ons kan nie nou enige uitsprake maak, voordat ons nie die verslag ontvang het nie.”

• Hy het weereens gevra dat mense hulle moet weerhou daaraan om uitlatings sonder feite te maak.

• Daar is navraag gedoen by mnr. Sakkie Lourens (Bosveld Misdaad Ondersoeke), wat destyds die ondersoek hanteer het tydens Willem se verdwyning, oor die aannames wat gemaak word. Hy het gemeld dat hy net betrokke was by die ondersoek tot Willem gevind is.

“Ek bly by my standpunt dat daar geen gemene spel was nie, tot ek verkeerd bewys kan word met feite, en nie bewerings nie.”

Check Also
Close
 
Back to top button