News

Sweismasjien se eienaar gesoek

Die eienaar van ’n sweismasjien wat teruggevind is, nadat ’n verdagte dit neergesmyt en vasgetrek is in Kanonkop, word steeds gesoek.

Mnr. Arthur Hill (Middelburg Dagpatrollie) het bevestig dat die sweismasjien nog nie opgeëis is nie.

’n Verdagte is op 31 Januarie kort na 11:00 deur ’n patrollielid opgemerk waar hy met ’n sweismasjien in Kiepersolstraat afloop. Die oomblik toe die man die patrollielid sien, het hy omgespring, die sweismasjien neergesmyt en oor mure begin spring.

Die patrollielid was in die omgewing, omdat ’n vrou vroeër die Middelburg Dagpatrollie gekontak het, omdat ’n booswig, wat een van hul fietse probeer steel het, haar omgestamp het toe sy op hom skree. Hy het die fiets neergegooi en laat spaander.

Terwyl hy oor mure gespring en die patrollielede hom probeer volg het, was hy op ’n stadium in ’n erf in Tambotiestraat waar ’n bootradio gesteel en hy sy klere geruil het. Sy ander klere is later in die motorhuis gevind.

Reaksielede van Mid Alarms en ook Titon Sekuriteit het ook by die soektog aangesluit, toe die uitdagende boef artikels uit erwe gesteel het en die slagoffers hul paniekknoppies gedruk het.

Nadat hy vir ’n ruk in ’n dak weggekruip en weer begin mure spring het, het hy in Palmstraat byna bo-op ’n reaksielid van Mid Alarms gespring toe hy oor die muur kom.

Hy is daar en dan gearresteer.

• William Lekgoro het die volgende dag in die hof verskyn op ’n klagte van vermoedelik gesteelde eiendom. Hy is steeds in aanhouding en sal weer op 14 Februarie in die hof verskyn vir formele borgaansoek.

• Die eienaar van die sweismasjien kan mnr. Hill bel by 083 870 9693 en ’n beskrywing gee van die kleur en maak daarvan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button