Inwoners uitgedaag om te help teen misdaad
Haweloses en dwelmverslaafdes is besig om die dorp stukkie vir stukkie weg te dra.
• ’n Dwelmslaaf is gevang nadat daar meer as ’n R1 miljoen se skade aan ’n Gholfsig spoghuis aangerig is. Hy is deur die polisie vrygelaat omdat die eiendomsagent nie namens die bejaarde eienaar ’n saak kon open nie.
• Inwoners is ook Woensdag sonder krag gelaat nadat ’n kabeldiefstal veroorsaak het dat ’n kragboks in Kareelaan ontplof het.
Die stryd teen veral kabeldiefstalle het reeds in Januariemaand vinnig stoom opgebou in veral die Dennesig, Kanonkop en sentrale woonbuurtes.
• DA raadslid, Johann Dyason, het die noodlot vrygespring einde Januarie, nadat ’n kragboks naby die Dennesig Saverite Sentrum ontplof het. Daar is die vorige aand meer as twee meter se kabels gesteel, wat Dennesig inwoners vir meer as 18 ure sonder krag gelaat het.
• Inwoners van Oosstraat het ook hulle misnoë gedeel oor aanhoudende misdaad, en het vertel dat kabeldiewe bykans elke nag terugkeer, en dat kabels wat deur die munisipaliteit gelas is net weer uitgeruk word.

• Kanonkop word herhaaldelik in die donker gelaat omdat krag nie aankom na beurtkrag nie.
Hoewel die polisie gekasty is deur inwoners tydens Maandagaand se gemeenskapsvergadering by die Lofdal Gesinskerk, het pastoor Callie Joubert gesê dat die kwessie van te min polisiemanne en voertuie vir die hoeveelheid kriminele deur die gemeenskap se betrokkenheid opgelos kan word.
Raadslid San-Mari Wait het bygevoer dat diegene wat die meeste kla die minste doen, nadat net 20 inwoners vir die vergadering opgedaag het,
Marnus Uys het hierdie week mense uitgedaag om hande te vat met hulle wat patrollies ry, omdat hy glo dit al oplossing is vir die toenemende misdaad.
Hy het mense uitgenooi om hom te skakel met navrae oor hoe om betrokke te raak by 060 488 3775.
