News

Trok gestroop nadat dit laasnag gesteel is

’n Trok is gestroop en op die R542 tussen Komatie Kragstasie en Hendrina gelos nadat dit gisteraand by die trokstop buite Middelburg gesteel is.

Mnr. Stephan Grobler (gemeenskap in blou, Komati) sê die eienaar van die trok is nou op die toneel en het verduidelik wat gebeur het.

Die, trok wat vanaf Johannesburg af kom was en twee sleepwaens met kole gedra het, het oornag by die trokstop.
Vanoggend het die drywer agtergekom dat die trok gesteel is en die eienaars laat weet.

“Die trok is omstreeks 20:00 gesteel en die opsporingstelsel is om 23:40 op die plek, waar mnr. Bertus Viljoen hom vanoggend gekry het en waar hy steeds staan, buite aksie gestel.”

Mnr. Grobler het hom na die toneel gehaas toe mnr. Viljoen hom vanoggend gebel en vertel het van die trok wat verlate langs die pad staan en op klippe staan gemaak is, omdat die meeste wiele weggedra is.

Mnr. Viljoen (’n inwoner van Blinkpan, ook deel van Gemeenskap in Blou) het omstreeks 05:45 vanoggend die trok langs die pad gesien.

“Ek het dadelik gestop, want in die meeste gevalle waar trokdrywers gekaap en dan later gelos word saam met die gestroopte trok, word hulle erg aangerand en dan so beseer gelos.”

Hy het eers die Blinkpan polisie, wat sowat agt kilometer vanaf die toneel geleë is, gebel en daarna vir mnr. Grobler.
Mnr. Viljoen het op die toneel gebly tot die polisie sowat 08:30 op die toneel aangekom het.

Die mans het vertel dat die boewe al die wiele afgesteel het.

Hulle het ook weggekom met al die diesel in die trok, die trokbattery, die lugkompressor en die rekenaarboks.

“Die battery is laasnag ontkoppel en dit is hoekom die opsporingstelsel nie meer gewerk het nie.”

Alle aanduidings is dat hulle die twee sleepwaens met ’n ander trok weggesleep het en daar moontlik ook ’n bakkie betrokke was, wat die dieselkanne vervoer het.

• Daar is bloed op plekke gekry waar artikels van die trok gestroop is en vermoed die mans dat dit een van die diewe was wat hom beseer het in hul haas om alles af te steel en weg te kom.

• Mnr. Viljoen het gemeld dat daar verlede jaar in die bestek van ’n maand se tyd drie trokkapings in die area tussen Hendrina en Carolina was, waar die kapers later weggekom het met die trokwiele en batterye van die trokke. In dié gevalle het hulle die sleepwaens met koolvragte net so agtergelaat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button